State of the Church

Dit was met verslaentheid waarmee ons toegekyk het na die tonele wat voor ons op die televisie afgespeel het tydens die “State of the Nation”-toespraak. Die gebrek aan respek vir die instelling van die parlement en die amp van die president, gepaardgaande met ’n verval van ’n basiese kultuur van hoflikheid, het ons oorbluf.

Oor die president se toespraak, oor wat hy gesê het en wat hy nie gesê het nie en wat hy moes gesê het, is deeglik geredekawel. Dit is soos dit hoort in ’n demokratiese land. Oor die detail daarvan wil ek nie hier skryf nie. My ergste vrees oor die aand se gebeure, insluitende die futloosheid van die toespraak, is egter dat dit ’n ware refleksie is van die toestand van die nasie.

Onbeholpe leierskap, interne magstryde, ’n gebrek aan vertroue in die integriteit van leiers, opgeblaasde ego’s, misbruik van mag, swak aanstellings, persoonlike verryking, ideologiese blokvorming en talle ander faktore het waarskynlik help bou aan die prentjie van die nasie wat ons in die parlement sien ontvou het.

Die vraag is of daar ’n ander kant aan die verhaal is. Gelukkig is die antwoord ’n besliste ja. Want verreweg die meerderheid landsburgers is welwillende mense wat daagliks saam werk, saam in gemeenskappe diens lewer, saam skoolgaan en studeer, saam op fabriek­vloere staan, saam tegnologie ontwikkel en benut, saam besigheid doen, saam koop en verkoop, saam in hospitale lê, wat na mekaar omsien en mekaar se be­lange op die hart dra.

As dit nie vir hierdie welwillendheid was nie, ten spyte van die diversiteit van die samelewing, was ons nou baie dieper in die moeilikheid. Die algemene ver­draagsaamheid en welwillendheid van gewone lands­burgers dra ons nasie deur ’n baie moeilike tyd.

As jy ’n Bell-kurwe sou trek van die welwillendheid van gewone Suid-Afrikaners jeens mekaar, is die klok­vorm waarskynlik nog redelik rond en groot. Hierdie werklikheid is die enigste buffer wat keer dat dit wat ons in die parlement sien, oorspoel na die uithoeke van ons samelewing.

Die verdraagsaamheid tussen die verskillende gods­dienste in Suid-Afrika is ’n goeie voorbeeld van die wyse waarop ons in Suid-Afrika geleer het om vir mekaar ruimte te gun. Leiers van die onderskeie godsdienste se voorbeeld in hierdie verband is van kritiese belang om te verseker dat ons nie in Suid-Afrika godsdienstige onverdraagsaamheid het wat lei tot anargie en geweld nie.

Ons moet egter nie die fout maak om die welwillendheid van die land se mense jeens mekaar as vanselfsprekend te aanvaar nie. Die gebeure op die formele politieke terrein plaas tans ongekende druk op gewone mense se goedgesindheid. Terwyl ons hoop dat daar sterker middelgrond in die partypolitiek in Suid-Afrika sal ontwikkel, is die kragte van verwyde­ring en polarisasie egter sterk en aktief.

Die rol van die kerke in Suid-Afrika om mense se goedgesindheid te ondersteun en te bevorder, raak nou belangriker as ooit. Die kerk moet nou verdraag­saamheid beliggaam. As kerk moet ons verskeidenheid omarm. As kerk moet ons wys hoe mense met ver­skille met mekaar omgaan en mekaar vashou.

Die slegste wat kan gebeur is dat die kerk fragmenteer, dit wil sê in stukke spat, in magsblokke funksioneer, verskeidenheid bo eenheid stel en deel word van ’n polariserende nasionale en internasionale werklikheid.

Ek het daarom gewonder oor die vraag hoe ’n “State of the Church”-byeenkoms nou sal lyk as dit op nasionale televisie uitgesaai sou word. Sou die nasie diep onder die indruk kom van ons verbondenheid aan mekaar?

Sou die nasie beïndruk word deur ons gerigtheid op die koms van die koninkryk? Sou die nasie ons re­spek vir mekaar en ons fokus op die waardigheid van alle mense beleef? Sou die nasie sien dat ons mense is wat die Kruisevangelie ons eie gemaak het en dat ons ’n dienskneggestalte aangeneem het? Dat die kerkverslae getuig van ’n kerk wat versoening bewerk in elke plaaslike gemeenskap, wat diensbaar is aan die koninkryk deur in die wêreld diensbaar te wees?

En dalk die heel belangrikste: Sou die nasie sien dat dit regtig nie vir ons om onsself gaan nie, maar om die heil en die florering van die mense van ons mooi land? Sal die nasie kennis neem van die verhoudings tussen gemeentes van verskillende kerke op plaaslike vlak en kerke nasionaal en internasionaal?

Sou die nasie sien hoe ons die buffer van veiligheid en selfverwesenliking laat groei deur die verkondiging van God se liefde en genade vir alle mense?

Ek wonder wat sal die Hoof van die kerk in sy toespraak sê?

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.