Gestroop van alle pretensie

Die Amerikaanse skilder, Edward Knippers, se werk is om verskeie redes kontroversieel.

Aan die een kant word sy werk in sekulêre kunskringe met ’n mate van skeptisisme bejeën vanweë sy uitbeelding van Bybelverhale vanuit ’n duidelike geloofsperspektief en met ’n uitgesproke teologie­se boodskap. Die artistieke kwaliteit van sy werk dien egter as teenvoeter vir kritiek uit hierdie oord, terwyl hy self uitdruklik verklaar dat hy juis die verhouding tussen Christelike geloof en visuele kuns met sy werk wil verken.

Aan die ander kant is daar uit meer konserwatiewe Christelike kringe kritiek op sy werk as gevolg van die eksplisiete gebruik van naakfigure in sy skilderye. Die mees radikale reaksie uit hierdie oord was die sken­ding van drie van sy skilderye by ’n uitstalling met die ge­paardgaande kommentaar dat Knippers “made the Bible into a nudist colony”.

Hierop het Knippers soos volg gereageer: “That’s exactly what God did. He stripped us of all pretenses. The spirit isn’t hidden somewhere behind our bodies. It’s all one.”

Die sentrale plek wat die menslike liggaam – en in besonder die naakte liggaam – in sy kuns beklee, hang saam met sy verstaan van die Bybel se beskouing van die mens. Volgens hom is die liggaam “an essential element in the Christian doctrines of Creation, Incarnation and Resurrection”. In die lig daarvan verklaar hy: “Disembodiment is not an option for the Christian.” Die menslike liggaam is juis die ontmoetingsplek van die goddelike en die menslike en daarom ’n geldige manier vir ’n Christelike kunstenaar om uitdrukking te gee aan sy geloof.

Terselfdertyd vermy hy ’n al te realistiese uitbeel­ding van die liggaam en maak eerder gebruik van ’n kubistiese styl waarmee hy uitdrukking gee aan wat hy beskou as die “ever-present veil that separates this world from the next”.

Een van die werke waarin al hierdie aspekte van sy kunstenaarsvisie duidelik na vore tree, is die byna lewensgroot skildery Christ in the Wilderness, waarin die versoeking van Jesus in die woestyn uitgebeeld word.

’n Naakte Jesus-figuur neem die sentrale plek in die kunswerk in. Hy word as volledig menslike persoon voorgestel en nie as bo-menslike figuur wat eintlik nie deur dit wat met Hom gebeur, geraak word nie. In die taal van Filippense 2:6 sou ons kon sê dat dit duidelik is dat hierdie Jesus “sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou het as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,” maar dat Hy volledig “aan mense gelyk geword” het. Of in die woorde van Hebreërs 4:15: “Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp.”

Dat dit ’n werklike versoeking is waaraan Jesus blootgestel word, word beklemtoon deur die feit dat Hy op die punt staan om te struikel en op die grond neer te stort.

Die figuur van Jesus word omring deur verskeie herkenbare én onherkenbare gediertes wat besig is om Hom te teister. Die figuur links bo in die hoek toon duidelike demoniese trekke en vertoon ’n angswekkende kombinasie van sowel menslike as dierlike trek­ke. Hierdie demoniese persoon hou as ’t ware toesig en oefen beheer uit oor die aanslag wat deur die ander figure geloods word.

Anders as in die verhale in die Evangelies word die verskillende aspekte/episodes van Jesus se versoe­king nie uitgebeeld nie, maar word daar eerder gefokus op die konkrete werklikheid van sy ervaring: dit is duidelik dat hy nie net in ’n geestelike worsteling verkeer nie, maar ook in ’n fisiese stryd gewikkel is.

Die kleurgebruik in die onderste gedeelte van die skildery en aan die twee kante is somber van aard en versterk die indruk van ’n stryd wat ten dode toe ge­voer word. Dit staan in kontras met die boonste middelgedeelte waarin daar van helder kleure gebruik gemaak word en waar daar twee figure uitgebeeld word wat die Jesus-figuur bystaan sodat Hy nie tot ’n val kom nie – ’n duidelike verwysing na die engele wat volgens die evangelieverhaal gekom het om Jesus te dien.

Die engele in die skildery toon duidelike menslike trekke wat daarop dui dat engele nie noodwendig bonatuurlike wesens hoef te wees nie, maar ook ander mense wat ’n mens help om staande te bly te midde van die aanvegtinge van die lewe.

Die wyse waarop Jesus en sy versoeking hier uitgebeeld word, dra daartoe by dat dit vir die toeskouer (en diegene wat die Evangelies lees) ’n verhaal word waarmee gewone mense hulle kan identifiseer. Die erva­ring van Jesus is vergelykbaar met die aanvegtinge waaraan alle mense blootgestel word en die feit dat Hy staande kon bly, dien as bemoediging vir gelowiges in soortgelyke omstandighede.

In die woorde van Knippers: “I have found that my nude figures have been used by God to change lives, bring those who love him closer to his side and challenge those who do not know him.”

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.