‘La La Land’ oorrompel en betower

LA LA LAND
Met Ryan Gosling en Emma Stone
Musiek geskep deur Justin Hurwitz
Regisseur en draaiboekskrywer: Damien Chazelle
Resensie deur Francois Mulder


In ’n wêreld waar Kersliggies en Kersmusiek in Berlyn en musiekfeeste in die liefdestad Parys alte dikwels wreed verdring word deur terroriste-aanvalle en masjiengeweerskote, smag ek na goeie nuus. In fliektaal verlang ek na ’n fliek wat my “goed laat voel”.

As jy ook soms so voel, is jou doktersvoorskrif: gaan kyk La La Land saam met jou geliefde. Laat jouself toe om oorrompel en betower te word deur dié goedvoel-fliek van die jaar. Maar moenie nét maanskyn en rose verwag nie – hierdie musiekprent bestaan uit ’n goeie mengsel van romantiese idealisme en harde realiteit.

Die titel La La Land verwys na die bekende idioom vir iemand wat in ’n droomwêreld leef, êrens op sy eie “planeet”. In die VSA word dié term ook gebruik as bynaam vir Los Angeles (LA), die tuis­te van Hollywood, die plek waar van drome flieks gemaak word. En die grootste droom van elke fliekmaker is natuurlik Oscar-glorie.

Met 14 Oscar-nominasies op sy kerfstok, weet jy by voorbaat dat elke aspek van hierdie film 5-ster-kwaliteit is. Sou La La Land die topprys as die jaar se beste fliek ontvang, sal dit die eerste keer wees dat ’n oorspronklike musiekprent dié prestasie behaal. Al 10 mu­siek­prente wat sedert 1928 met die Oscar as beste prent bekroon is, was gebaseer op Broad­way-produksies of ander bronmate­riaal. Maar elke melodie wat jy in La La Land beleef, is bedoel vir die groot­skerm, kraakvars uit die pen van Justin Hurwitz.

Filmregisseur en skrywer Damien Chazelle is aan Suid-Afrikaanse fliekgangers bekend vir sy fenomenale fliek Whiplash. Op 32 ry hierdie filmmaker ná slegs sy derde vollengte fliek op die kruin van Hollywood-sukses.

Die verhaal van La La Land vertel van Sebastian (Ryan Gosling), ’n sukkelende jazz-puris wat suiwer jazz wil behou deur met ’n jazz-klub te begin. Mia (Emma Stone) is ’n aspirant-aktrise wat die een teleurstelling ná die ander belewe. Hierdie twee dromers se wêrelde ontmoet met musiek en dans en ’n transformerende vennootskap en liefdesverhaal ontvou. Hulle word mekaar se inspireerders in hulle navolging van hulle drome. Teleurstelling en kompromieë bring hulle egter telkens uit hulle la la-lande aarde toe.

Die “evangelie” van La La Land is dat drome soms waar word, maar daar is altyd ’n prys wat daarvoor betaal moet word. Die fliek vermeng die nostalgie van outydse musiekprente op ’n kreatiewe manier met die uitdagings wat aan hedendaagse kunstenaars gestel word. 

La La Land laat ná die tyd ’n paar vrae in jou kop draai, vrae wat lê waar die evangelie en die verbruikers- en sukseskultuur mekaar ontmoet: Is dit die moeite werd om jou drome tot elke prys na te jaag … al is dit ten koste van verhoudings? Is beroemdheid gelyk aan geluk? Wat is die belangrikste: die verwesenliking van my drome, of my verhouding met iemand wat ek liefhet?

Bono van die Ierse rockgroep U2 het eenmaal gesê: “Rock ’n Roll has its feet down in the mud and its head up in the clouds.” La La Land se kop sing in die wolke met voete dansend in die modderige realiteit.

Dis ’n staande ovasie en vyf sterre werd! 

Ds Francois Mulder is leraar van NG gemeente Blanco in George.