Die klein liggie is uitgedoof

Christa Louw skryf:

Dit was ’n wonderlike dag toe ek gehoor het die NG Kerk het sy deure en hart oopgestel vir gays. Vir ’n kort rukkie het ek gedink mense het uiteindelik hulle nood raakgesien.

Geskok moes ek in die koerant sien dit is teruggetrek. En dat sommige dit as ’n oorwinning sien. ’n Oor­winning vir wie?

Wat is die taak van die Kerk? Is dit nie om God se liefde en genade uit te dra nie? Te lank is hierdie oordeel oor gays gepredik. Sê God nie dat die oordeel Hom toekom nie?

Ek is die ma van ’n gay seun en sal probeer om my kind teen die aanslae van die lewe te beskerm. Die grootste hartseer is dat ek dit teen die kerk moet doen, waarvan ek my lewe lank (71 jaar) lidmaat is. Nêrens is hulle welkom nie. Wat ek wel weet, is dat my kind welkom is by dié God wat ek aanbid, want Hy is ’n ­genadige God.

Ek wil vandag vir al wat man is sê: Gaan op jou knieë en dank God dat jy nie gay is nie, want dan spring jy al die verwerping, oordeel en liefdeloosheid van die kerk vry.

In Matteus 18:6 staan: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van my afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen om sy nek, in die diep see verdrink.” Hoeveel 16-, 17- en 18-jarige kinders moes al deur die worsteling gaan as hy of sy moes ontdek: “Ek is gay.”

Waarheen nou? Lees maar die statistiek oor gay selfdood. Baie kies hierdie uitweg.

Die klein liggie wat geskyn het is weer uitgedoof. Ons het te lank die verkeerde boodskap uitgedra. Is dit nie tyd dat ons soos Christus sal sê: “Almal wat vermoeid en belas is kom na My toe” nie?