Sy heerlikheid in die geloofsgemeenskap

In ’n vorige aflewering van hierdie rubriek het ons aan die hand van ’n interpretasie van Genesis 1:27 gesien dat ons as mense die “beeld van God” is. Ons is die sigbare, tasbare tekens van die omvang van God se teenwoordigheid en grootheid. Waar ons is, daar is die beeld van God.

Jesaja 49:1-6 kom uit die pen van ’n ander skrywer as Genesis 1, maar belig die mens eweneens vanuit die skeppingstradisie. Dié teks maak deel uit van die vier kneg-van-die-Here-liedere in Jesaja (Jes 42:1-4, 49:1-6, 50:4-9 en 52:13 – 53:12). Die vier liedere gaan oor ’n kneg of dienaar sonder naam, behalwe in Jesaja 49 waar Israel die “kneg van die Here” genoem word.

In al vier hierdie gevalle het die kneg ’n besondere verhouding met die Here. Uit ’n Christelike hoek word die kneg soms as ’n voorspelling van Jesus geïnterpreteer. Abraham, Moses, Hiskia, Israel, koning Kores en talle ander is ook al as die kneg geïdentifiseer. Al hoe meer navorsers is van mening dat “die kneg” meer interpretasiemoontlikhede het. Wie die kneg is, is nie so belangrik as wie hy verteenwoordig en wat hy doen nie. Hy maak God se wil bekend, inspireer moedelose mense en verkondig vryspraak vir die wat in skuld gedompel is.

Treffend is Jesaja 49:3 waar van die kneg Israel gesê word (letterlik vertaal): “My kneg is jy Israel, in jou verheerlik ek myself.” Mense is dus nie slegs beeld van God nie, maar Israel (die geloofsgemeenskap) is ook die heerlikheid van God. Wil jy iets van die heerlikheid van die Here sien, kyk na die geloofsgemeenskap.

Soos die geval met Genesis 1, kan ons ook hier maklik die indruk kry dat mense die heel belangrikste deel van God se skepping is en gevolglik die res van God se skepping verdwerg in belangrikheid. Dit is egter nie die bedoeling nie.

Die tekste handel oor die onsigbare God vir Wie ons telkens weer in die ander ontmoet. God raak men­se se lewe deur mense aan, want God se heerlikheid sien ons in mense en God se beeld sien ons in mense. In­dien ons beeld van God is en indien die Here Homself in die geloofsgemeenskap verheerlik, waarom ver­oordeel en verguis ons mekaar so?

Betekenisvol is 49:6 waar die nasies, met ander woor­de die ander – en by implikasie dan ook die wat an­ders as ons is – ook ingesluit word. Die kneg is nie alleen geroep vir die geloofsgemeenskap nie, maar ook vir die nasies. Wat beleef die nasies vandag by die ge­loofs­gemeenskap, menslike vooroordele en veroor­de­ling, of sien hulle iets van die heerlikheid van God?

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.