Dit gaan oor menswaardigheid

“God wil hê ons moet omgee vir kwesbare mense,” sê Katleho Ncaphe.

Hy praat by die Bethesda House of Kindness in Sunnyside, Pretoria, waar mans ondersteun word wat op straat bly.

Dit terwyl ’n groep lidmate van die NG gemeente Stellastraat die Saterdagoggend daar is om ’n afdak te bou, groente te plant en met Bethesda se mense te kuier.

Bethesda is een van die projekte wat die middestadbediening Pen in Pretoria bedryf. As Pen se temaleier vir gemeenskapsteun en burgerregte staan Katleho hier aan die stuur van sake. Hy het onder meer ’n kursus van Bybel-Media se Nehemia-Bybelinstituut deurloop.

Die visie, verduidelik Katleho, is om saam met hulle mense op reis te gaan en hulle te help om hul volle potensiaal in Christus te bereik.

Om dit te doen, moet hulle mense se waardigheid herstel. Daarom bied hulle byvoorbeeld vir straatmense ’n plek om te stort. “Hoe kan hulle gaan werk soek as hulle nie skoon is nie?” vra Katleho.

Hy vertel dat mense hulle vroeër sommer oorkant die straat in die Walkerspruit gewas het. Daar was nêrens anders om dit te doen nie. Buiten dat die water glad nie veilig is nie, het skoolkinders vir hulle gelag. Dit was vernederend.

Nou kan hulle by Bethesda kom stort. Daar is plek om klere te was, plek waar dit gehang kan word om droog te word, en ’n strykplank en strykyster om dit te stryk.

Bennie van Nieuwenhuizen vertel wat dit vir hom beteken het toe hy op straat was. “Om net ’n skoon hemp en skoon broek aan te trek …” sug hy. Wat Bethesda vir hom gedoen het, was die verskil tussen draaglik en ondraaglik, sê hy.

Daar is ’n stel sluitkassies wat hulle teen R10 per maand verhuur. Daar kan mense wat geen ander bêreplek het nie, hulle klere bêre. Hulle kan identiteitsdokumente, CV’s en dokumente met kwalifikasies veilig bewaar. Ook geld en medisyne kan daar gebêre word.

Daarsonder word sulke lewenslyne maklik van iemand geroof as hy op straat is.

Die adres van die sluitkassie word ook deur Capitec aanvaar as ’n adres waarmee iemand ’n bankrekening kan open. Dit sluit nog lewensmoontlikhede oop.

Die sluitkassie word ’n huis in die kleine, sê Katleho.

Hulle help mense om CV’s op te stel en maatskaplike werkers help mense om individuele ontwikkelings­planne uit te werk.

Vrydagoggende lees hulle saam uit die Bybel en bespreek dit, sê Katleho. Dan eet hulle ook saam. Party aande hou hulle “night church”.

Maar daar is nie sitplek vir al die mans nie, ook nie lekker plek om te gesels nie.

Daarom is Katleho opgewonde oor die bydrae wat die Stellastraters kom lewer. Hulle het nuwe bankies gebring waarop mense onder die afdak kan sit. Hulle hoef nie meer op die grond te sit nie. Dit sal ’n plek word waar mense kan koffie drink en ontspan, kan gesels oor die dag wat verby is.

Dit is nog ’n stukkie menswaardigheid wat herwin word.

En binne ’n week of wat verwag hulle die kontrakteurs wat deur Stellastraat betaal word om die drie taamlik gehawende storte te omskep in vyf mooi, nuwe storte waar ’n mens jouself met waardigheid kan skoon kry.

Maar Stellastraat se mense kom gee nie net nie. Hulle werk saam met Bethesda se mense, verf saam met hulle buitebande waarin groente geplant word, maak saam met hulle beddings, plant saam met hulle pale vir die afdak, drink saam met hulle koffie en koeldrank, eet saam met hulle wors teen middagete.

Want, verduidelik ds Fouché de Wet, dit gaan nie net oor die restourasie van geboue nie, maar ook van mense.

En as mense grense met welwillendheid oorsteek en verhoudings bou met mense wat anders as hulle is, dan word almal in die proses ’n bietjie heler, ’n bietjie ryker.