Ek klim die eerste keer op die kansel

My gedagtes is ’n warboel van emosies toe ek stilstaan en my kop buig, voordat ek op die kansel klim. Ek is stoksielalleen. Die geur van my gunsteling-blomme (madonnalelies) verkwik die neusgate van die gemeentelede wat in die kerkbanke sit. Die Bybel, lewensgroot, lê oop voor my. Hulle wag vir my om te begin …

Ek is 23 jaar oud, wat weet ek van die kerk, haar mense en God? Dit is die vraag wat in my kop rondmaal terwyl ek die eerste keer preek.

Ek is ’n finalejaar-teologiestudent in my gemeen­te­jaar en die meeste bedieningservaringe is vir my nuut en opwindend. Ek analiseer elke eenvoudige han­deling uit ’n teologiese oogpunt. Ek bedink en beredeneer my preke met ywer. Ek wil vir elke tweede ge­meentelid een of ander boek waarvan ons geleer het, aanbeveel.

Daar was ’n klomp nuwe inspirerende oomblikke wat my iets laat besef het van die verantwoordelikheid van dit waarmee ek besig is. Die keer wat ’n ouer dame my “klein dominee” noem, die vrou wat my nommer op haar foon stoor as “Camille-Predikant,” die juffrou wat my desperaat bel en vra of ek kan help met Wêreldbiddag vir vroue, die diep gesprekke in my belydenisgroep en die ervaring om drie aande in ’n ry laat by die kerk weg te ry!

Die gevoel van opwinding maak energie los om ’n groot klomp werk te verrig, maar dit kan ook lei tot emosionele uitputting op die lange duur. Miskien word die teenoorgestelde scenario waar, dat ek so dik­vellig raak, dat ek naderhand blind is vir die nood van die mense om my. Daar moet sekerlik ’n goue middeweg wees.

Die energie en ywer waarmee ek alles aanpak, is anders as die energie van ervare dominees wat passievol, dag in en dag uit, die koninkryk van God uitbou. Daar is ’n sekere ritme van “domineewees” wat êrens diep in hulle skoene gaan lê het.

Daarvan kry ons byvoorbeeld ’n klein flits, in die wetende simpatieke glimlag van ’n dominee, te midde van ’n oënskynlik hopelose situasie. In dié glimlag lê opgesluit ’n lewe wat daagliks gekonfronteer is met mense se diepste pyn, lyding en die finaliteit van die dood, maar ook hulle vreugde by ’n paartjie se trou­dag, die begin van ’n nuwe lewenspad saam met God, tydens die doop van ’n baba.

Sal ek na baie jare in die bediening kan bely dat iets van my eerste preek steeds in my leef? My gebed is dat iets van dié energie en afwagting wat ek nou beleef, by my sal bly vir al my bedieningsjare, waar ek ookal geplant mag word om Hom te dien.

Camille Castelyn doen haar gemeentejaar by die NG gemeente Stellastraat in Pretoria.