Oral reeds tekens van nuwe lewe

In gemeentes waar die Revised Common Lectionary as leesrooster gebruik word, kom die verhaal van Lasarus se opwekking uit die dood vanjaar ty­dens die Lydenstyd weer aan die orde. Dit is heel gepas aangesien hierdie gebeure volgens die Johannes-evangelie die direkte aanleiding was dat Jesus se vyande finaal besluit het om van Hom ontslae te raak. In dié Evangelie word die verhaal dan ook direk voor die gebeure van die laaste week voor Jesus se krui­siging geplaas.

Talle kunstenaars het deur die eeue hierdie tafereel in kunswerke uitgebeeld. Een van die treffendste voorbeelde is die skildery Die opwekking van Lasarus deur die Renaissance-skilder, Jan van Vlaandere (in Spaans bekend as Juan Fla­menco) (1465-1519).

Gebore en as kunstenaar opgelei in Vlaandere, het hy die grootste deel van sy loopbaan as hofskilder vir die Spaanse koningin, Isabella van Kastilië, deur­gebring. Talle van sy werke is tot vandag toe nog in Spaanse museums en kerke te sien – die skildery wat Lasarus se opwekking uitbeeld byvoorbeeld in die Prado-museum in Madrid.

As tipiese kunstenaar van sy tyd maak hy gebruik van ’n uiters realistiese styl. Dis egter nie ’n Bybels-historiese realisme waarin die gebeure uitgebeeld word nie, maar ’n realisme waar die Bybelse verhaal na die eietydse konteks van die skilder verplaas word. Dit blyk duidelik uit die kleredrag van die figure in die skildery, die boustyl van die kerkgebou/katedraal op die agtergrond en ook uit die graf op die voorgrond wat nie ’n tipies-Bybelse grafkelder is nie.

Die kleredrag van die verskillende persone is veral interessant: die vrou wat waarskynlik een van Lasarus se twee susters (Marta en Maria) voorstel, en die mansfigure in die poort wat waarskynlik Jesus se godsdienstige teëstanders verteenwoordig, is almal geklee in die drag van welgestelde mense uit die hoër klasse van die destydse samelewing. Jesus en sy dissipels is egter geklee in klere wat sterk herinner aan die gewade van Benediktynse monnike – ’n belangrike hervormingsbeweging binne die destydse kerklike gemeenskap wat ook bekend gestaan as die “swart monnike”.

Die kontras tussen Jesus en sy vyande word hiermee in verband gebring met die spanning tussen hervormingsgesindes en hooggeplaaste lede van die kerklike hiërargie. Laasgenoemde bewaar letterlik die poort na die kerk wat met ’n muur afgeskei word van die opwekkingstoneel op die voorgrond van die skildery. Hulle afwysende houding teenoor die gebeure wat hier afspeel, is waarskynlik bedoel as kommentaar op die selfverheffende en hovaardige beeld wat meermale deur hipergodsdienstige “poortwagters” uitgestraal word.

Dit bring ons by die feit dat die realistiese styl van die skildery terselfdertyd ook as allegoriese kuns beskryf kan word, dit wil sê waar daar aan feitlik elke element een of ander dieper simboliese betekenis toegeken word. Die mees opvallende is die skedel in die linkerhoek van die skildery wat as tipiese motief in die kuns­tradisie gebruik word om aan die eindigheid van alle dinge te herinner.

Die kerk op die agtergrond stel waarskynlik die institusionele godsdiens voor wat op ironiese wyse van Jesus en sy volgelinge geskei word en met magsvertoon deur streng geestelike leiers bewaak word. Jesus en sy volgelinge tree as ’t ware buite die laer van die kerklike magspolitiek op op ’n wyse wat lewe voortbring uit die doodse werklikheid van menslike feilbaarheid en verganklikheid.

Die manier waarop die figure van Lasarus en Marta/Maria geplaas word, herinner sterk aan die tipiese voorstellings van die Madonna en Kind, met Lasarus se suster wat hom in ’n soort offergebaar tot Jesus se beskikking stel. Die ooreenkoms met die Maria-Jesuskind-motief kan moontlik daarop dui dat die kunstenaar die opwekking van Lasarus as ’n soort (weder-) geboorte voorstel met Lasarus as verteenwoordiger van die mens wat deur die wedergeboorte tot nuwe lewe deur Christus gewek word, en Marta/Maria as verteenwoordiger van die ware geloofsgemeenskap wat mense na ’n ontmoeting met Christus bring – soms juis buite die strukture van die georganiseerde godsdienstigheid.

Die hoopvolle karakter van hierdie gebeure kom myns insiens op die mees treffende wyse tot uitdrukking in die wyse waarop die muur wat die voor- en agtergrond van die skildery verdeel, uitgebeeld word. Dit is duidelik die bedoeling om as muur van skeiding te funksioneer: Jesus en sy lewegewende evangelie teenoor die kerklike magspolitiek. Hierdie muur is egter reeds besig om te verkrummel en sal waarskynlik op ’n stadium óf afgebreek word óf vanself omval – met net die stewige poort met sy onverbiddelike poortwagters wat (sonder enige verdere funksie) staan­de bly.

Meer nog: die skeidingsmuur is nie net besig om te verval nie; daar is reeds te­kens van nuwe lewe in die plante wat bo-op die muur en in die barste tussen die bou­stene begin groei.

In Christus kan geen mure van uitsluiting permanent staande bly nie. Deur sy lewe en dood het Hy juis die strukture wat mense in ingeslotenes en uitgeskuifdes ver­deel, kom afbreek om een nuwe mensheid tot stand te bring.

En waar daar vroeër skeiding was (en soms steeds is), is daar oral reeds tekens van nuwe lewe.

Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedienings­ont­wik­keling aan die Universiteit van Pretoria.