Kreider bring lesse uit die vroeë kerk

THE PATIENT FERMENT OF THE EARLY CHURCH: THE IMPROBABLE RISE OF CHRISTIANITY IN THE ROMAN EMPIRE
Deur Alan Kreider
Uitgegee deur Baker Publishing Group

Resensie deur Freddie Schoeman


Waarom het die vroeë kerk ge­du­rende die eer­ste drie eeue van sy bestaan so merkwaardig gegroei ten spyte van vervolging? Wat het mense daartoe gelei om deel te word van ’n gemeenskap wat deurgeloop het onder wantroue, disinformasie en geweld? Alan Kreider probeer in hierdie boek antwoorde gee op hierdie vrae.

Hy sluit aan by godsdienssosioloog Rodney Stark en ander skrywers, maar gee bykomende (vir hom die belangriker) redes vir die groei van die kerk. Op grond van geskrifte uit die eerste drie eeue van die kerk se bestaan (oa Tertullianus, Cyprianus, Origenes en andere), sê Kreider dat die lewenstyl van Christene ’n be­palende faktor was. Christene se lewenstyl is ge­ken­merk deur geduld en lydsaamheid. Hulle het byna letterlik die ander wang gedraai, die tweede myl gestap en hulle nie verset teen kwaadwilliges nie.

Hierdie lewenstyl is ontwikkel deur geloofsvor­ming wat oor ’n lang tydperk plaasgevind het voordat voornemende gelowiges toegelaat is tot die doop en volle toegang tot die erediens en geloofsgemeenskap ver­leen is. Die kategumenaat, ’n program van lidmaatvoorbereiding waartydens die lewenstyl van voorne­mende lidmate onder die vergrootglas geplaas is, het hierin ’n kardinale rol gespeel.

Die lewenstyl van geduld en lydsaamheid is verder bevorder en verstewig deur gereelde deelname aan die weeklikse erediens waar die eucharistie sentraal was. Ty­dens hierdie eredienste is geloofsgewoontes wat ty­dens die kategumenaat ontwikkel is verder ingeoefen. Dit het gelowiges in staat gestel om tydens vervol­gings vas te bly staan in hulle geloof en, sou dit hulle lot wees, die dood met waardigheid en gelykmoedigheid tegemoet te gaan. Kreider verwys in hierdie verband na die aangrypende verhaal van die martelaarskap van Perpetua en Felicitas in Mei 203 in Kartage.

Kreider gebruik die metafoor van fermentasie, ’n tydsame proses van gisting, om die groei van die kerk te beskryf. Hy wys daarop dat die kerk nie groei pro­beer verhaas of kunsmatig probeer bevorder het nie. Hulle het op die werking van die Gees staatgemaak en intussen geduldig volhard in ’n lewenstyl van geduld en lydsaamheid.

Hierdie wyse van groei het tot ’n einde gekom toe die Christelike geloof die ondersteuning van die kei­sers en owerhede begin geniet het sedert Konstantyn I. Waar die kerk besig is om in ’n omgewing van toenemende post-Christendom sy weg te probeer vind, het Kreider se boek vir ons baie te sê oor missionaliteit, kerkgroei en evangelisasie.