’n Genadigde God

“Waar vind ek ’n genadige God?”

Dit was die vraag van Martin Luther 500 jaar gelede. Dit is ook die vraag wat baie mense vandag vra.

Vir die straatmense van die Pretoriase middestad waarvan op die voorblad van hierdie Kerkbode vertel word, lê daar genade in iets so eenvoudig as die geleent­heid om te kan stort, om ’n skoon en gestrykte hemp en broek te kan aantrek.

Vir die kinders van Witrivier waarvan ’n mens kan lees, wag daar ’n nuwe ervaring van die genadige God wanneer hulle grense oorsteek na mense wat anders is as hulleself.

Daar is ook ’n storie oor werk in die Caprivi in die noorde van Namibië. Daarby is daar ’n foto van ’n ma wat haar baba vashou terwyl een van die Vrystaatse gelowiges na die kleintjie se gesondheid omsien. Dit spreek van ’n genadige God.

By die konferensie oor die huwelik wat by Raslouw in Pretoria gehou is, was daar ’n breë instemming dat die wil van ’n genadige God nie in bloudrukke of harde reëls te vind is nie, maar in waardes van omgee en respek, en in verhoudings wat hierop gebou is.

Dan is daar die storie van die vroue wat by Moreletapark met vaardighede toegerus word. Dit is vaardighede wat hulle kan help om werk te kry, wat gaan help om ’n beter toekoms vir hulle oop te sluit. Dit kan help om vir hulle iets waar te maak van die vol lewe wat Jesus bring (Joh 10:10).

Telkens wanneer die liggaam van Christus in aksie kom om sy liefde uit te dra na ander mense, word daar iets duidelik van die genadige God.