Mzanziwood, land van my drome

Toe ek klein was, moes ek baie hoor dat ons bereid moet wees om te veg en te sterf vir ons land. Ons het gesing: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika”.

Later het ek ontdek mense het hulle lewe gegee vir ’n droom wat eie volksbelang ten koste van ander voor­op gestel het. ’n Droom wat baie pyn, haat en ver­wy­dering veroorsaak het.

Ek het gehoor van Nelson Mandela en meegesleur geraak in die lang reis na vryheid. Ek het nie regtig verstaan wat dit beteken nie. Sporadies is ek blootge­stel aan verhale van studentevriende: Een wat vertel hoe sy ouers gemartel en vermoor is deur wrede wit­men­se; my Afrikaanse manlike kollegas wat vertel van moord en doodslag op die grens, maar ook van diep verwarring en hartseer, teleurstelling en skok oor die dade van kerk- en volksleiers.

Vandag, in 2017, is ek ’n leraar van die NG Kerk. Ek het dit oorleef tot hier, moes baie oorloë veg as vrou in die kerk. Ek veg steeds gevegte in verhoudings waar die mense om my (my mense) kwaad is en diep teleur­gesteld is.

My mense saam met wie ek werk: My swart kollegas wat daagliks onreg en seer beleef wanneer hulle nie as mense erken word nie. ’n Ouma van 65 wat as huis­hulp werk en deur klein bedorwe brokkies soos ’n vloer­lap behandel word. ’n Tuinier wat onmenslike ure moet werk en onmenslike take verrig vir baie min geld.

’n Man wat op straat bly wat gevloek en weggejaag word by die hospitaal omdat hy stink.

’n Pragtige dogtertjie van 13 (so oud soos my twee­ling) wie se lyfie oopgeruk word deur wrede mans wat deur die samelewing beskou word as helde, maar in die nag die rotte is wat onskuld en skoonheid vertrap. Dieselfde mans wat ’n vrou sal slaan en vermink in die naam van liefde: my mense.

Soms maak my mense my moeg en moedeloos. Baie van my Afrikaanse mense wil nie meer hoor dat hulle ’n rol het in die Nuwe Suid-Afrika nie. Baie is moedeloos en wil oorsee gaan.

Net so baie van my swart vriende is ook moedeloos. Hulle het opgegee om te probeer verduidelik hoekom swart kinders uit ’n arm township ’n agterstand op skool het, hoekom tienermeisies swanger raak en hoekom pa’s hul gesinne verlaat om te gaan werk soek in die stad. Hulle wil nie meer verduidelik wat my rassistiese grappe en opmerkings aan hulle doen nie. Hulle het nie meer geduld met wit mense wat nie verstaan hoe apartheid hul lewe verwoes het nie.

Ná 1994 het ek gehoor van ’n reënboognasie. Ek was opgewonde daaroor, maar dié het op haar neus geval.

Nou sit ek met die uitdaging: Gaan ek, soos wat ek verstaan Jesus van my verwag, opstaan en die verskil wees wat ek wil sien in die wêreld deur lief te hê en te vergewe, of gaan ek my kop in ’n molgat druk en hoop dat alles wonderbaarlik sal verander? Al wil ek dit soms doen, weet ek dit gaan nie werk nie. Dit is nie wat Jesus bedoel het toe hy gesê het ons moet hom volg nie.

Die Franse Katolieke teoloog Alfred Loisy het gesê: “Jesus het die koms van die koninkryk verkondig, maar net die kerk het gekom.” Dít moet ons beweeg tot kerkwees op ’n wyse wat ons nog nie was nie. Ons moet opnuut leer om méér as kerk te wees.

“Hier is ons omdat ons nie anders kan nie, en nie anders wil nie,” het ’n kind in Duitsland gesê.

Ek is hier: My land Suid-Afrika! Ek wil vir jou lewe, en ’n lewe vir ons kinders oopbreek.

Mag die Here ons genadig wees om meer as kerk te wees en om te begin raaksien, te begin omgee, te begin vergewe, te begin optel en om verantwoordelikheid te neem vir alles wat ons gedoen het en nie gedoen het nie. Ons moet hoop word vir mense in pyn. Ons moet vergifnis bedien aan almal wat kwaad is en haat in hul hart dra: swart en wit en al die ander.

Ons moet kreatief wees: skool hou op nuwe inspi­rerende maniere, hospitale infiltreer en sorg bedien wat regtig genees. Ons moet huise bou wat die storms gaan oorleef. Ons moet besighede inisieer wat werk skep.

Ons moet vriende maak met alle mense van ons land, ook gay mense en gestremde mense. Want ons is kerk! Die Here het ons eerste liefgehad en daarom het ons lief.

Ons, die kerk, moet die nuwe droom droom vir ’n nuwe Suid-Afrika. Ons moet daardie droom uitdink en uitleef.

Mzanziwood, my land. Ek gaan! Ek wil! Ek kies om meer as net kerk te wees!

Ek nooi jou uit om te kom kuier in die middestad van Pretoria. Kom eet straatmielies en mašotšas. Dan luister ons saam.

Dr Marinda van Niekerk staan aan die stuur van die Pretoriase middestadbediening Pen. Sy is ook lid van die Noordelike Sinode se moderatuur.