Sy aan sy met Jesus

Maria Magdalena is een van die Bybelkarakters deur wie kunstenaars deur die eeue gefassineer is.

In navolging van een lyn in die kerklike tradisie is sy oorwegend uitgebeeld as iemand met ’n twyfelagtige reputasie: gewoonlik as beeldskone en verleidelike vrou, en in baie gevalle ook as ’n prostituut wat ná haar kennismaking met Jesus tot inkeer gekom het.

Hierdie weliswaar onverdiende reputasie het daarmee te doen dat sy soms geïdentifiseer word met die anonieme sondige vrou in Lukas 7 wat Jesus se voete, waarop haar trane gedrup het, met haar hare afge­droog het.

Die kennelike erotiese aard van hierdie optrede en die afkeurende reaksie van die persone wat dit aanskou het, het dit vir meeste lesers vanselfsprekend gemaak dat hierdie ’n vrou met losse seksuele sedes was.

Die identifikasie van haar met Maria Magdalena – uit wie Jesus volgens Markus 16:9 sewe duiwels gedryf het – het laasgenoemde se lot verseël: voortaan sou sy gebrandmerk word as die stereotipiese “gevaarlike vrou” vir wie mans (selfs Jesus) maar moet ligloop.

Dit is bekend dat daar ook ’n obskure tradisie is wat Maria Magdalena beskou as die “geliefde dissipel” na wie daar in die Johannes-evangelie verwys word. In sekere van hierdie kringe is daar selfs die siening dat Jesus met haar getroud was, en dat hulle nageslag tot vandag toe in ’n sekere lyn van die Franse koningshuis nagespeur kan word.

Niks hiervan kan in die Bybelse verhaal oor Maria Magdalena teruggevind word nie. Selfs die verwysing na die sewe duiwels wat uit haar gedryf is, kan nie sondermeer met enige onwelvoeglike seksuele gedrag in verband gebring word nie.

Die Bybel beskryf haar as een van die meer prominente vroue wat deel van Jesus se dissipelkring uitgemaak het, en wat ook finansieel bygedra het tot die versorging van Jesus en sy dissipels. Sy was waarskynlik deel van die groep wat Jesus op sy laaste reis na Jerusalem vergesel het, en was ook een van die getuies van sy kruisdood. Saam met ’n paar ander vroue was sy een van die eerste getuies van die leë graf, en volgens sowel die Markus- as die Johannes-evangelie die eerste persoon wat Jesus na sy opstanding uit die dood ontmoet het.

In die kerklike tradisie is daar ook ’n newelyn wat haar beskryf as die “apostola apostolorum” – die een wat die verantwoordelikheid ontvang het om die nuus oor Jesus se opstanding aan die res van die dissipels be­kend te maak. In die gnostiese Evangelie van Maria Mag­dalena uit die tweede eeu nC word sy dan ook uitgebeeld as ’n sterk en gerespekteerde leiersfiguur wat veral met Petrus in konflik gekom het oor die toene­men­de uitsluiting van vroue in die leierskap van die vroeë kerk.

In die jongste aantal jare is daar ’n herontdekking van hierdie aspek van die tradisie oor Maria Magdalena, veral in kringe waar daar krities oor die patriargale oorheersing van kerklike gesagstrukture besin word.

’n Kunswerk wat hieraan uitdrukking gee is die opdragwerk, The One sent – Mary Magdalene with Jesus the Christ, van die kontemporêre Amerikaanse vroue­skil­der Janet McKenzie. Ons tref Jesus en Maria Mag­da­lena in die skildery in ’n sittende houding langs mekaar aan. Albei sit in afhanklike afwagting voor God, albei se houding en gesigsuitdrukking straal die stille ver­troue uit oor dit waarmee hulle besig is, en albei se han­de is uitgestrek in ’n kwesbare gebaar van iemand wat sê: “Hier is ek. Stuur my.”

Die feit dat Jesus en Maria deur die kunstenaar as ge­lykes voorgestel word, gee uitdrukking aan Jesus se woor­de waar Hy sê: “Ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien” (Matt 20:28) en “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, maar Ek noem julle vrien­de” (Joh 15:15). Die implikasie van die uitbeel­ding is dat Maria net soveel as enige een van die ander dissipels daarop aanspraak kan maak om as vriend en mededienaar van Jesus erken te word. Dit eggo natuur­lik ook die woorde van Paulus waar hy sê: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”

Die uitgesproke bedoeling van die skilder, in haar eie woorde, is om die moontlikheid te verbeeld van “an alternative to a hierarchical way of being church”. Haar alternatief beskryf sy as “that of the companion disciple modelled by Mary Magdalene – the one who worked side by side with Jesus.”

Teenoor die wyse waarop vroue (en ander groepe) dikwels uit kerklike leierstrukture uitgesluit word, word Maria Magdalena hier voorgehou as die voorbeeld van ’n vrou wat haar volwaardige plek langs Jesus in diens van sy evangelieboodskap kan inneem.

In die woorde van die dissipel, Levi, teen die einde van die Evangelie van Maria Magdalena: “As die Ver­los­ser haar waardig geag het, wie is julle dan om haar te verwerp?”

Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedienings­ont­wik­keling aan die Universiteit van Pretoria.