Genade soos ’n bekende briesie

Genade word waar wanneer jy dit eer­stehands aan jou lyf kan voel. Tot baie onlangs was die genade dalk vir my iets wat as vanselfsprekend aanvaar is – die vriende wat naby is, die sekuriteit wat deur ses jaar opgebou is en die versekering van ’n plek waar mens kan tuiskom.

Dan skielik, nog groter genade: ’n Beroep. ’n Beroep wat meer sou verander as wat ek verwag het. Ek bevind myself aan die begin en einde van dinge: ’n MDiv-graad, maar ’n nuwe gemeenskap.

Hier in Polokwane het ek onverwags, in herfstyd, ’n sekere briesie gevoel. Maar wat vir my vreemd is: dis iets wat ek ken! Ek ken hierdie herfsbriesie.

Uit my kinderdae, as atleet, wanneer die byeenkomste ernstig word en ek gespanne is en uitdagings het, dan was hiérdie herfsbriesie daar. In my gesig. Dis iets van Polokwane, maar dis ook my koue briesie. En skielik, soos ’n ou vriendin, waai hierdie bekende briesie oor my.

Tydens die herfsgradeplegtigheid van 2017 haal Jürgen Moltmann vir TS El­liot aan: “What we call beginning is often the end. And to make an end is where we start from.” Hy praat dan oor die studieseisoen wat verby is en die roeping wat begin. Moltmann self is as Nazi-krygsgevangene uit ’n stukkende Duitsland ge­skuif na Engeland – “but in 1948 I experienced the clean­sing of my soul”. En Moltmann begin teologie stu­deer! Die einde was eerder die begin. Moltmann noem die afsterwe, die verlies, ook die “magic” tussen die einde en die begin.

Dit is hier waar ek myself bevind – aan die einde en aan die begin. ’n Einde wat my stroop van alles wat terughou. ’n Moeilike paradoks – soos die skoonheid van die dood in herfs. Die wegval van sekuriteit. ’n Eie roeping wat begin. Ek voel bang.

Maar God waai as koue Briesie oor my. ’n Briesie word my “magic”, of eerder: my Genade. God wat my ken, weet hoe om met my te praat. Ek kon Genade aan my lyf voel.

Is dit nie juis hier waar die kerk haar mag bevind nie? Ons mag ook tuiskom, bevrees, gestroop van alles wat ons weghou van ons roeping. Genade dat wanneer die land en selfs alles om ons rommelstatus ver­werf, God presies onthou hoe om pynlike eindes met ’n “herkenbare briesie” in ’n nuwe roeping te verander. Hier waar Genade wag. Want in daardie briesie gaan die Gees vars lewe inwaai. Ons sal dit aan ons lyf kan voel.

Ds Marian Jordaan is onlangs by die NG gemeente Pietersburg-Noord bevestig.