Ons droom van ’n kerk …

Mense kan deesdae maklik vasgedraai raak in al die onstuimigheid in die land en kerk en vergeet om te droom oor hoe dinge kán lyk.

Jesus se opstanding herinner ons, seker sterker as enigiets anders, dat die storie anders kan verloop as wat vir mense moontlik lyk. Paastyd nooi ons om te droom oor ’n moontlike toekoms.

Die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Kerkwees droom oor hoe die NG Kerk kan lyk as ons ons roeping as ’n gestuurde kerk uitleef. Ons is baie bewus dat die kerk nie nou vir die eerste keer ontdek dat ons ’n gestuurde kerk is nie, ons staan in ’n eeue oue tradisie van betrokkenheid in Suider-Afrika en die wêreld. Ons glo egter dat God ons nou, in ’n nuwe konteks, verder vorentoe roep. Daarom droom ons van ’n kerk wat al meer sal word waarvoor ons geroep is: ’n kerk wat nie vir homself bestaan nie, maar om sout en lig vir die wêreld te wees.

Die woord “transformasie” is ’n gelaaide woord. Dit het so ’n negatiewe politieke konnotasie gekry dat ’n mens dit amper nie meer kan gebruik nie. Nie­temin is dit ’n goeie woord om te sê wat die kerk se kernbesigheid is: transformasie van mense en die wêreld. Ons praat egter nie van politieke transformasie nie.

Dit is vir ons duidelik dat gestuurdheid oor baie meer as projekte gaan. ’n Kerk is nie missionaal omdat dit missionale projekte het nie, dit is missionaal as die lidmate hulleself verstaan as gestuurdes en so leef. Die hart van transformasie is die transformasie van harte.

Ten grondslag van missionale kerkwees is twee groot teologiese uitgangspunte: die teologie van God se koninkryk wat aanbreek en die teologie van die Drie-eenheid.

Die koninkryk van God help ons om te verstaan dat God se heerskappy in elke aspek van die werklikheid sigbaar moet word. Dit gaan nie net oor mense wat vir die hiernamaals gered moet word nie. Dit gaan oor die verlossing van Christus, wat nou reeds, hier waar ons leef, mense en die wêreld nuutmaak.

Die teologie van die Drie-eenheid help ons verder om holisties te dink oor wie ons kan wees. Voorheen het missionale teologie hoofsaaklik met die opdragte gewerk waar Jesus ons uitstuur na die wêreld om getuies te wees en dissipels te maak. Die teologie van die Drie-eenheid werk eerder met trekkrag as met opdrag. Wie God is, sê vir ons wie ons kan wees.

Daarom droom ons van ’n kerk waar gelowiges onder God se heerskappy leef en geïnspireer word om te dink en te leef soos die Vader, Seun en Gees is.

Die kerk kan egter nie net fokus op die persoonlike transformasie van lidmate nie. Ons droom van dapper en gefokusde leierskap, leiers wat toegerus is om gemeentes te lei na diepgaande en blywende ver­andering. Ons droom ook van soepel kerklike strukture en ’n ruimteskeppende kerkorde wat diep verandering sal bemagtig.

Jesus se opstanding nooi ons om anders oor die toekoms te droom. God is heilig en anders en leer ons droom van ’n kerk wie se andersheid soos dié van God self is: liefdevol teenwoordig in die wêreld, reddend, genadig, barmhartig, gewend, regverdig, self-opofferend, versorgend en vol geregtigheid. Wie God is, laat ons droom oor wie ons kan wees.

Dr Lourens Bosman is voorsitter van die Algemene Sinode se Taakspan vir Gemeentebediening en deel van die strategiese Taakspan vir Missionale Kerkwees.