’n Stilwordplek ‘in Jesus se slipstream’

“Ry dwarsdeur die dorp. Waar die laaste stop grondpad word, hou jy aan tot by die houthek. As die poorte oopmaak, sal jy sien: Ons huis is die eerste kamer links in die hemel.” So beduie die Van Schoors die pad na hulle retreat-plek op Greyton waar ANNALISE WIID gaan kuier het.


Greyton ís hemels. Prentjie-mooi. Kunste­naars­paradys. Anderkant die riviertjie, neffens Ge­na­dendal. Knus. Weggesteek. Ver van die groot­pad en die rotteresies.

Ds Gys van Schoor gooi inderdaad die poorte oop. Gul. Gasvry. “Kom groet eers die berg,” nooi hy. In die raam van akkerboomtakke, lê ’n koel, groen kloof. ’n Asemrowende, lewende skildery. Anders met elke seisoen, elke sonsopkoms, elke sterrenag.

Gys maak koffie terwyl Thea, Gys se vrou, my die tuin wys. ’n Paadjie kronkel speel-speel tussen geelhout, wilde katjiepiering en suurlemoengras. Thea ken al die groeigoed se name. Ek teug hulle geure in. Verlustig my in spatsels pienk, pers, wit, oranje. Son tussen my blaaie. Suikerbekkies sing.

Daar is iets onbetwisbaar geestelik aan goeie koffie om ’n greinhouttafel. Met botterbroodjies vars uit die oond. Eerlik, gemeensaam, aards. Soos Gys en Thea se geloof.

Thea droom al sedert 1983, van vóór hulle troue af al, oor ’n stilwordplek soos dié. ’n Veilige ruimte waar mense tot verhaal kan kom en heel word. ’n Ont­vlug­ting – nie uit die werklikheid nie; eerder uit oppervlak­kig­heid, diep lewenswaarhede in.

Gys was eers predikant op Malmesbury, later So­mer­strand in Port Elizabeth, en het afgetree in Dur­ban­ville-Moe­dergemeente.

Hy vertel: “In 1998 het ek ’n ‘helder oomblik’ beleef: Ek het besef ons kan nie so aangaan nie. Ons, die kerk, gaan dit nie maak nie. Ons sal moet re-frame en re-train.

“Toe al het ek begin soek na ’n geskikte retreatplek – vir twee jaar lank, maar niks gekry nie. Ook maar goed. As ons nou terugkyk, besef ons, ons was toe nog glad nie gereed om so iets aan te pak nie. Jou eie woestyn maak jou meer deurdag en sensitief om mense te ondersteun.”

Daarna, het hulle inderdaad, drie jaar lank, ’n eie woestyn deurkruis. Gys beskryf dit as “die slegste tyd in ons lewe. So erg, ek het my geloof verloor. Maar, weereens, as ons nou terugkyk, sien ons: Daar het soveel goeie goed uit daardie woestyntyd gekom. Ons het Jesus herontdek!”

In 2004 het Gys ervaar die Here sê vir hom: “Jy is amper 50, maar Ek en jy gaan oor begin. Ek gaan vir jou een woord gee. En dit gaan jou ’n leeftyd vat om daardie een woord te ontdek, te ontgin en te integreer. Jesus.”

“Dit klink sleg,” sê Gys, “maar, weet jy, na jare in die bediening, is meeste dominees waarskynlik ’n bietjie verveeld met Jesus. Uitgekuier. Hulle het mos lank geleer en gepreek oor Hom. Wat bly oor om oor opgewonde te raak? As ’n mens só dink, misgis jy jou met Jesus.”

Sedert 2008, bied Gys, in vennootskap met Communitas, ’n driejaarkursus in spirituele ontwikkeling vir predikante aan. ’n Reis, met twee retreats per jaar. Voorheen moes hulle die retreats virtueel of op ander plekke aanbied. Maar nou het Greyton aangebreek: Met ’n verwelkomende grasdakhuis, omring deur ’n interessante gemeenskap.

Om tot hier te kom, was vir Gys en Thea ’n intense geloofsreis. Vier keer het hulle Greyton-planne platgeval sodra dit van die grond af wou kom. Dit het hulle só moedeloos gemaak, dat Gys begin dink het: Ek het God seker verkeerd gehoor of verkeerd verstaan. Hy het nie. Maar hy het geleer daar is iets soos “death of a vision”. “En dit is vital,” sê hy. “Die feit dat ons vandag hier sit, is ’n gift.”

Die ander ding is: “Waiting is active”. Iets gebeur in jou, en met ander, terwyl jy wag. Medegelowiges uit Winterton, Pretoria, Durbanville en Namibië het in die wagtyd ’n trust saam met Gys gestig. Ander kollegas het begin saamwerk.

’n Sielkundige ook. Die Trustees van die Sentrum vir Geloofsvorming het hulle gedra. Toe alles uiteindelik in plek val, was dit groter as woorde: ’n Helende huis onder die berg se blad. Met ’n stroompie aan sy voete.

Thea, ’n verpleegkundige en limfedeem-terapeut, voed en versorg die retreat-gaste. Beide Gys en Thea is geestelike begeleiers, “spiritual directors”. En geleidelik betrek hulle Greyton se inwoners en infrastruktuur by hulle retreat-droom. In ’n simbiose van aardse spi­ri­tualiteit. Wat lei tot egte menswees.

Ons is nie die antwoord nie, herinner Gys telkens. “Ons deel net wat ons geleer het, en besig is om te leer. Ons reise kruis met medegelowiges s’n. En ons groei saam, opgevang in Jesus se slipstream.”