Die kerk as koringkorrel

In hierdie dae waarin ons graag saamgesels oor missionale kerkwees, hoor ons dikwels dat God deur die kerk na die wêreld wil beweeg. Ons dink oor God as ’n sturende God wat graag sy verlossing as antwoord op ons pyn en gebrokenheid ’n werklikheid wil laat word. Omdat God die kerk hiervoor wil gebruik, praat ons dan dikwels metafories oor die kerk as God se “antwoord” op die pyn van die wêreld.

Tog is daar ’n paar slaggate wat ons versigtig moet systap wanneer ons hierdie metafoor wil gebruik om oor ons roeping na te dink. As ons die pyn van die wêreld diagnoseer as die probleem waarop die kerk die klinkklare oplossing bied, kan dit maklik lei tot ’n situasie waar die kerk vanuit die hoogte aan ’n nie-gelowige, “goddelose” wêreld antwoorde op elk van hul probleme dikteer. Dit sou eerstens ’n naïewe, selfs arrogante aanname wees om te dink dat die geweldige kompleksiteite wat die wêreld in die gesig staar, sommer maklik deur ’n groep gelowiges opgelos sou kon word. Tweedens sou dit drup van godsdienstige voorgee, want ons hoef nie ver in die verlede te gaan soek om herinner te word dat die gebrokenheid waarop die kerk so maklik ’n antwoord sou wou gee, ook binne die kerk self gevind kan word nie. Die “vyand” wat ons daarbuite wil verslaan, verras ons maar te dikwels on­ver­hoeds in ons eie konsistories, kerkvergaderings en bin­nekamers.

Die grootste gevaar van hierdie metafoor sou egter wees dat ons uit die oog sou verloor presies wat die aard van die “antwoord” is wat God op die pyn van die wê­reld gee. In die persoon van die Man van Nasaret het God se antwoord nie die vorm aangeneem van ’n dog­matiese kennislysie of ’n metodologiese kitsoplos­sing vir elkeen van die mensdom se komplekse proble­me nie. Daarteenoor het God se antwoord behels dat die Goddelike oopgegaan het vir die lyding van die wê­reld op só ’n manier dat God die lyding, en selfs die dood, tot binne God self geneem het, en op daardie ma­nier vir ’n lydende wêreld ’n nuwe toekoms ontsluit het.

Kyk ons na Golgota, sien ons ’n paradoksale antwoord op die wanhoop, onreg, en bitter pyn van die wêreld. Dietrich Bonhoeffer skryf in ’n brief uit sy tronksel oor hoe God in die kruis ’n God word wat bereid is om deur die wêreld uitgestoot te word, selfs tot op die punt dat God onsigbaar word. Die Skepper van die aarde se antwoord op die pyn en gebrokenheid van sy skeppingswerk is nie om ’n almagtige, ewig verhewe antwoord te gee of oordeel te vel nie. Dit is om in die kruis vir hierdie pyn verantwoordelikheid te neem deur self vir die gebrokenheid, pyn, en onreg kwesbaar te word. Dit is waarom dit ’n radikale belydenis is om Jesus “Immanuel” te noem – God met ons – omdat God Godself vir die pyn van die wêreld laat oopgaan, self daarvan slagoffer word, en dit só herskep.

Dit is vanuit hierdie radikale perspektief wat ons die metafoor van die kerk as God se antwoord vir die pyn van die wêreld met inhoud moet vul. As die kerk ’n ma­nier is waardeur God in die wêreld verlossend teenwoordig wil wees, dan beteken dit dat enige volgeling van Jesus bereid moet wees om vir die pyn van die wêreld oop te gaan in so ’n mate dat hy of sy saam met ander ly.

Hierdie inhoud stroop die metafoor van enige triom­fantelike selfvoldaanheid. In die woorde van Bonhoeffer sou ons kon sê dat die kerk dus bereid moet wees om deur die wêreld uitgestoot te word tot so ’n mate dat sy bereid is om selfs in onsigbaarheid steeds te dien. Dit sou dan met die kerk wees soos met die wind wat “waai waar dit wil”: blare wat beweeg sonder dat die wind self gesien word, of genesing wat vloei sonder dat die kerk gereed staan om “in God se naam” daarvoor krediet te ontvang. Dus, die kerk as onsigbare dienskneg.

Of as die woorde van Bonhoeffer nie byval vind nie, sou ons in die woorde van een van Jesus se eie metafore van die koninkryk kon sê dat die kerk geroep is om te droom van ’n boom wat só groei dat dit veiligheid en ruimte voorsien aan die skepsels van God om te leef en floreer ás skepsels van God. Maar as die kerk die manier is waardeur God hierdie koninkryk in die wêreld wil laat vorm aanneem, vloei dit daaruit voort dat die kerk die mosterdsaadjie is waaruit geen boom sal groei – en geen koninkryk sal spruit – as die saadjie nie selfs eers tot ’n einde kom nie.

As ons toelaat dat ons denke oor die kerk as “antwoord” op die pyn van die wêreld ingekleur word deur hierdie inhoud – die broosheid van die kruis en die kleine tydelikheid van die koringkorrel – kan dit ons inspi­reer om met openheid fyn te gaan luister – en voel – na die pyn van die wêreld, want dit is daar waar ons sal leer oor die omvangryke verlossing wat God vir sy mense wil laat werklikheid word. Deur ons. Deur elke mens. Onsigbare, sterwende koringkorrel. En dán kom die koninkryk.

Dr Yolande Steenkamp is leraar by NG gemeente Lyttelton in die Oostelike Sinode.