Op soek na vreugde

Mense gaan kerk toe om vreugde te ervaar en om daar te leer hoe om meer vreugde te hê. Dit is die waarneming van die antropoloog, professor TM Luhrmann van Stanford Universiteit.

Sy glo mense se behoefte aan vreugde is groter as die behoefte om die “korrekte stellings te glo”. Sy erken die belangrikheid van inhoudelike geloofswaarhede, maar meen dat mense eerstens getrek word deur die evangeliese siening dat die wêreld vol vreugde is, dat God goed is, dat daar hoop is, selfs al lyk dit nie nou goed nie. Hierdie hoop trek mense na die kerk. Dit verklaar na­tuur­lik ook waarom sommige mense so aangetrek en mis­lei word deur oppervlakkige voorspoedteologie.

Luhrmann se waarneming is waardevol. Nie almal wat op ’n Sondag in die kerk sit deel dieselfde geloofsienings nie, maar een rede vir hul teenwoordigheid is hul soeke na lewensvreugde. Hierdie soeke na lewensvreugde sluit aan by Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou. Jesus sê die water wat Hy gee word ’n fontein wat bly borrel en die ewige lewe gee. Die inhoud van die evangelie, maar ook die deelhê aan die gemeenskap van gelowiges gee lewensvreugde aan mense. Daarom sal sekularisasie nie geloof uitwis nie en is die einde van die kerk van Christus verseker nie in sig nie. Inteendeel …

Hoe dra die kerk by tot mense se lewensvreugde? Van die dinge wat mense lewensvreugde gee in die kerk is gasvryheid, medemenslikheid, diensbaarheid en gedeelde, kollektiewe spirituele ervarings. In hierdie Kerkbode berig ons oor ’n jong matriekseun se ervaring van gas­vryheid, hoe Kerkbode se redakteur Neels Jackson medemenslikheid uitleef met ’n straatpersoon (Bhe­ki), maar ook lesse van medemenslikheid by Bheki leer. Dan is daar ook die NG gemeente Lydenburg-Suid se diensbaarheid met ’n groenteprojek en gemeentes se unieke Paasfees-ervarings. Só bring kerke daagliks vreug­de en hoop in Suid-Afrika.