Die Paassiklus bring ’n nuwe gesindheid

Hierdie jaar se Lydenstyd was vir my totaal anders! Dit was asof my hart en oë net weer oopgegaan het vir ’n nuwe verstaan van Chris­tus se lyding en sterwe. Sy offer is volmaak gebring. Die Lydenstyd in die kerklike jaar het nog altyd ’n besondere en eie unieke identiteit gehad. Hierdie tyd word getipeer as ’n tyd wat gekleur word in opregtheid en eenvoud. ’n Tyd waarin gelowiges opnuut die waarheid van die evangelie in hulle eie lewe deurdink, beleef en uitleef. Tans bevind ons onsself in die Paassiklus. In die vroeë kerk het hierdie tyd sowel die lyding as die verheerliking van Christus ingesluit.

Die leë graf dra die boodskap van ’n opgestane Jesus wat nie meer gevind kan word by die plek van die dood nie. Sy linneklere is agtergelaat, Jesus het vooruitgegaan. Die dissipels se lewe is radikaal ver­ander in hulle ontmoeting met die opgestane Here. Die geboorte van die Christelike geloof het be­rus op die oortuiging dat Jesus Here en Christus is. Met hier­die boodskap is die kerk op pad na die wêreld waar God reeds aan die werk is. Hier lê die kerk se missionale gerigtheid.

Die kerk bring die Paasboodskap met eenvoud en skoonheid. Die aandag word telkens gevestig op hulle wat buite die ligkring van ons mensgemaakte sosiale strukture staan. Ons leer dat hoewel hulle somtyds in die oë van mense gering is, hulle tog in God se oë groot is. Filippense 2:5 spreek juis hierdie nuwe gesindheid aan: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar in Christus Jesus was.” Hierdie teks het iets te sê vir die wêreld waarin ons as gelowiges leef en die verhoudings waarin ons staan. Ons is verloste mense (Fil 2:12) wat bo verdenking moet leef en as ligdraers (Fil 2:15) moet optree.

In praktiese liefde het Jesus sy gesindheid teen­oor ons bewys. ’n Gesindheid van nederige eenvoud teenoor hulle wat dors langs die lewenspad sit. Hul­le wat absoluut niks het om terug te gee nie. Diens­kneg wat voete was! Hierdie Lydenstyd het my weer by die besef gebring van hoe belangrik ons gesindheid as kinders van God moet wees. Ek het gedink aan die woorde van Martin Luther: “Ons is diewe en rowers as ons byvoorbeeld so vasklem aan ons eie brood dat ons vir die bedelaar sê: Ek het gewerk vir die brood in my huis. Sorg jy maar vir jouself. As ek hierdie behoeftige nie voed nie, word my eie besittings gesteelde en geroofde goed, ook wanneer dit nie geroof en gesteel is nie. Daardeur word ek ʼn dief vanweë my eie besittings, deurdat ek niemand daarmee dien nie.”

Selfs die ou kerkvader Ambros het gesê: “Voed hom wat honger is. As jy dit nie doen nie, het jy hom doodgemaak.” Later wys Martin Luther op die volgende: “Daar word van ons niks anders gevra nie as om die een vir die ander ʼn Christus te wees.” Ons moet onsself in die skoene van mense plaas, ons mag weggee en die verlossing verkondig van Hom wat sy lewe gegee het aan ʼn verlore wêreld. Paastyd het ʼn totaal nuwe gesindheid gebring!

Dr Hugo van der Linde is moderator van die Hoëveld-sinode.