Christenskap die geloof van vreugde – Moltmann

Die bekende Duitse teoloog Jürgen Moltmann het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy as “rewolusionêre teoloog” in 1976 ’n visum geweier is. Sy boodskap aan Suid-Afrika, waar ongeregtigheid tans baie pyn veroorsaak, is: Luister na ander, hou aan hoop, raak betrokke en laat jou stem hoor.


“My heart is overwhelmed with joy and gratitude to see the new South Africa although there are problems, I see big steps into the living future …”

Dié woorde kom van die Duitse teoloog wat in 1976 deur Desmond Tutu en die Wêreldraad van Kerke na Suid-Afrika genooi is. Hy is egter ’n visum geweier, omdat hy bestempel is as ’n “rewolusionêre teoloog”!

Nou, na 39 jaar, keer hy terug, en sê dat hy nou die nuwe Suid-Afrika kan geniet. Op 6 April is Moltmann deur prof Johan Buitendag, die dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP), vereer met ’n ere-doktorsgraad vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse konteks. Dit sluit aan by die Fa­kul­teit se eeufeesvieringe.

In sy outobiografie A broad place, beskryf hy onder andere sy ervaring in die apartheidsjare in 1978, toe hy wel toegang verkry het tot Suid-Afrika. Met sy destydse terugkeer na Duitsland beloof hy homself dat hy nie sal terugkeer na Suid-Afrika voordat die apartheid­sisteem tot niet is nie.

Michael West, die bestuurder van die Wêreldraad van Kerke se publikasies, beskryf Moltmann as iemand wat sy kreatiewe denke aanwend om die klas­siek-reformatoriese werke te herinterpreteer, en te wor­stel met aktuele Christenkwessies soos byvoorbeeld die paradoks van pyn in die wêreld, maar ook die wonderlike moontlikhede wat vandag oop voor die wêreld staan.

Moltmann se lewe is geperforeer met uitdagings en dit kom duidelik tot uiting in sy teologie. Hy word in ’n ouerhuis groot as die sewende kind en sy oupa is ’n Vrymesselaar. Hy word gevorm deur die Tweede Wê­reld Oorlog se gruweldade waar hy as jong man die bom­bardering van Hamburg en sy mense, beleef. Hy staan op die drumpel van sy volwasse lewe toe dit aan flarde geskeur word deur die oorlog.

Dit is dan ’n paar jaar later as gevangene, in ’n werks­kamp, wat hy met die storie van die lydende Jesus gekonfronteer word en sterk daarmee identifiseer. Hy worstel met die vraag waarom hy oorleef het en die ander nie. Sy hele lewe word dan ’n antwoord daarop, om uit dankbaarheid en met die oortuiging van Jesus se genade te leef. Hy meen dat die lewe nie bepaal word deur die suksesse wat jy in jou lewe behaal nie, maar dat jy eerder gedefinieer word deur die kere wat jy op­gestaan het uit jou mislukkings.

Die sleutel van Moltmann se sukses lê dan juis in sy uitdagende lewensomstandighede wat hom gevorm het, sowel as sy teologie wat eenvoudig iets beteken vir ander. Hy kry dit reg deur sy unieke verstaan van teo­logie, wat altyd in ’n driehoek fungeer naamlik die kerk, die publieke forum of hedendaagse markplein en die akademici.

Tydens sy besoek, bied hy ’n paar lesings aan; een met die titel: “Christenskap as ’n geloof van vreugde”. Hoe is dit moontlik dat Christene vreugde kan beleef in die lig van gruweldade in die geskiedenis, soos Ausch­witz en Apartheid? Hy maak eerstens die onderskeid tussen vreugde en pret. Meeste mense in die wêreld is “pret-behep”, sê hy.

Vreugde kom egter van die wete dat God betrokke is in die wêreld. Dit is ’n blywende gevoel, wat jou uitkyk op die lewe bepaal. Soos Moltmann dit stel: “True joy opens the soul, is a flow of spirits, giving our existence a certain easiness.” Ons is gebore en geskape vir vreugde in God. Vreugde wakker al ons sintuie aan en sluit in ons oop die kapasiteit om te lewe, lief te hê en kreatiwiteit aan die dag te lê. In Christenskap staan die gekruisigde, lydende God sentraal, maar ook nog meer die vreugde van sy opstanding.

Moltmann is oortuig dat pyn en lyding ook eendag sal verander na ewige vreugde in God. Dit meen egter nie dat geregtigheid nie hier op aarde moet geskied nie, sê hy.

In sy toespraak tydens die Fakulteit Teologie se herfs-gradeplegtigheid, verwys hy na die fliek Cry my beloved country en noem hy dat beide Duitsland en ons in Suid-Afrika, “huil vir hul geliefde land”. Ons huil vir geregtigheid en kry swaar weens die pyn van ongeregtigheid. Deur die geskiedenis is beide Duitsland en Suid-Afrika gekritiseer en veroordeel. Hy het hoop dat geregtigheid sal seëvier in die vorm van nie net sosiale vryheid nie, maar ook gelykheid deur gesonde gemeenskappe. Dit is na sy mening ware, sosia­le geregtigheid wat langtermyn-vrede sal bring. Ons moet dus na ander luister, betrokke raak, aanhou hoop en ons stem laat hoor. Hy sluit af met die woorde: “God seën Suid-Afrika, die geliefde land.”

Camille Castelyn is tans ’n MDiv-student by die Universiteit van Pretoria.

Fakulteit Teologie van UP word 100!

Die Fakulteit Teologie van UP vier vanjaar hulle 100ste bestaansjaar saam met die 500 jaar Reformasie. Dié fakulteit is ook in 2017 aangewys as een van die top 100-fa­kul­teite ter wêreld. Die jaar is afge­skop met die ope­ning van die fakulteit sowel as met ’n akademiese gedenkdiens waarna die simboliese ope­ning van die hekke plaasgevind het. Dit dui op die inklusiwiteit en dat die hekke nooit weer toegemaak sal word nie. ’n Konfe­ren­sie van twee dae met die tema “Die dekonstruering van die verlede” is aangebied en Moltmann het hier ’n lesing met die titel “Die toekoms van teo­logie” gelewer.