God van die randfigure

Marcel Vosloo van die Strand skryf:

Ons het ’n wonderlike Hemelse Vader en Hy toon sy liefde in besonder in sy soeke na die verlore skaap, die uit­geworpene in die samelewing. Dit is die heerlike evan­gelieboodskap. Dit is hoe Hy vandag nog uitreik na die tollenaar en sondaar, die prostituut en die ower­spe­lige. Daar is niemand wat te veel sondes het nie, nie­mand op wie die samelewing hul rug gedraai het, wat nie by Hom kan tuiskom nie.

Die volle – en ware evangelieboodskap – is dat Jesus sondaars ontvang wat tot bekering kom. Hy ontvang mense wat bereid is om hul rug op hul sondige verlede te draai. Vir hulle het Hy konsekwent een boodskap: “Gaan heen en sondig nie meer nie.” Enige ander bood­skap wat mense na Christus nooi – en nie van hul­le verwag om ’n lewensverandering te ondergaan nie – druis lynreg in teenoor die Woord se heerlike boodskap van tuiskoms by God. Hierdie onbybelse boodskap kry dieselfde aanklag as die priesters in Maleagi 2:17 toe hulle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle.”

Gewoonlik word daar deur die voorstanders van selfdegeslagverhoudinge net in die algemeen na die Woord verwys met opmerkings soos “die God van die randfgure” en “die allesinsluitende liefde van God”. Maar, daar word tog van eksegete verwag om elkeen van hierdie stellings te gaan toets in die lig van die Woord! Daar moet gevra word: Op watter manier is God die God van die randfigure en hoe werk die alles­insluitende liefde van God? Bonhoeffer het gewaarsku teen goedkoop genade. Die voorstanders van selfdegeslagverhoudinge se manier van Skrifgebruik kom neer op dieselfde teologiese denkfout.