Godsdiens in skole

Die saak oor godsdiens in skole is eersdaags in die hof. Die saak is van belang vir elke landsburger, Jode, Moslems, Christene – ook diegene wat nie met ’n bepaalde godsdiens assosieer nie. Die saak word gevoer teen ses skole wat na bewering buite die voorgeskrewe wetlike ruimte godsdiens be­oe­fen, maar dit het groot praktiese en veral prinsipiële implikasies.

Die Suid-Afrikaanse grondwet se Artikel 15 ver­klaar: “(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. (2) Gods­diensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied, mits – (a) daardie beoefening reëls na­kom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is; (b) dit op billike grondslag geskied; en (c) bywoning daarvan vry en vrywillig is.”

Die tersaaklike openbare gesag word deur die SA Skolewet, Wet 84 van 1996, as volg aangedui: “(7) Vryheid van gewete en godsdiens in openbare skole behoudens die Grondwet en enige toepaslike provinsiale wet kan godsdiensbeoefening by ’n openbare skool gehou word ingevolge reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig is, indien sodanige beoefening op ’n billike wyse geskied en bywoning daarvan deur leer­ders en personeellede vry en vrywillig is.”

Daar is ingevolge die Skolewet van 1996 twee soorte skole in Suid-Afrika: openbare skole en onafhanklike skole. Die filosofie onderliggend aan ’n openbare skool is dat die gemeenskap betrokke is en die etos en godsdiensbeleid van ’n skool bepaal. Die skoolgemeenskap word verteenwoordig deur die beheerliggaam wat ver­kies word en waarin personeellede en leerders ook ver­teenwoordig word. Openbare skole is dus nie staatskole nie. Dis gemeenskapskole.

Tot dusver is die beginsel goed gehandhaaf dat beheerliggame ingevolge die wet die gesag het om die etos en godsdiensbeleid van skole te bepaal. Die vraag is of beheerliggame daarin slaag om billik te wees en om bywoning van godsdiensbeoefening regtig vrywillig te maak, sonder dat daar direk of indirek teen kin­ders gediskrimineer word.

Verskeie teologiese vrae word nou ook gevra. Is dit nie maar primêr ouers en kerke se verantwoordelikheid om die godsdienstige onderrig van kinders te behartig nie? Is die gevaar van indoktrinasie by skole nie so groot dat die versigtiger weg eerder gevolg moet word en heeltemal weggedoen moet word met gods­diens­onderrig en byvoorbeeld ’n Christelike etos nie? Moet daar volstaan word met prof Kadar Asmal se 2003-beleid van onderrig in kennis van die godsdienste?

Die dieper teologiese onderskeidings gaan verder terug in ons tradisie, van Martin Luther se twee ryke tot by AA van Ruler se Religie en Politiek in 1945 waar­in hy godsdienstige neutraliteit van die staat ernstig bevraagteken. Later is hierdie debat in SA verder ge­voer deur verskeie gereformeerde teoloë.

Op ’n filosofiese vlak moet die vraag na neutraliteit in die onderwys egter nou weer gevra word. René Descartes (1596-1650) maak as grondlegger van die mo­derne wetenskap die aanname dat slegs dit wat waar­neembaar en meetbaar is, tot die terrein van die wetenskap behoort, en dat slegs dit wat absoluut seker is, as goeie wetenskap kan tel.

Intussen het die wetenskap bewys dat niks in die wetenskap seker is nie. Einstein het met sy relatiwiteits­teorie wetenskaplike sekerheid nek omgedraai. Lees maar Charles Taylor se A secular age (2007) om te verstaan hoe die wetenskap ontbloot is as nie neutraal nie en nie sonder groot aannames wat ’n groot invloed het op die keuses wat bv in natuurwetenskaplike on­der­soeke gemaak word nie. Hy ontbloot die morele hoë­grond-posisie van rasionaliteit as ’n keuse vir ’n ge­slote wêreldstruktuur wat op irrasionele aannames be­rus. Dis soos ’n sportstadion waarvan die dak toegemaak word. Die fiksasie is dan so op die spelreëls dat die wêreld buite die stadion by wyse van keuse totaal bui­te rekening gelaat word. Die resultaat is ’n beper­ken­de kennisleer.

Die aanname dat die onderrig van kinders in ’n “neu­trale wetenskaplike ruimte” kan geskied, is daarom myns insiens per definisie vals. Leerders kom uit hulle ouerhuise en wêreldblootstelling met oortuigings en geloof, met aannames en idees. So kom hulle leerkragte ook by die skool aan, met oortuigings en aannames. So skryf ander leerkragte ook aan kurrikulums en vakinhoude, met aannames en ’n wêreldbeskouing.

Godsdienstige neutraliteit is ’n mite. Selfs sekulari­teit berus op mense se oortuigings en aannames. En die skeidsregter oor wie se aannames (en mites) die beste is, kan beslis nie die staat wees nie. Daarom is openbare skole die regte ding vir ’n land met ’n duurverworwe grondwet wat gelykheid, en menswaardigheid respekteer en daarom vryheid bied vir ’n diversiteit van oortuigings. Openbare skole moet eenvoudig ’n keuse kan maak vir ’n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing, etos en geloofsoortuiging.

Maar die Bybel en ons land se grondwet vereis ook geregtigheid. Daarom behoort skole met ’n Christelike etos vanuit hulle diep oortuiging oor hoe God verhoudings tussen mense sien, kliphard te fokus op godsdienstige praktyke in skole wat niemand in verleentheid stel, domineer, dwing, teen hulle diskrimineer en hulle onwelkom laat voel nie.

Daar rus ’n dure plig op skoolgemeenskappe wat gekies het vir ’n Christelike etos vir hulle skool, om nie so daarmee om te gaan dat hulle eerder “preaching” as “teaching” beoefen nie. Die God wat hulle aanbid, vra juis groot sensitiwiteit vir andersdenkendes en onseker mense, versigtigheid, deernis, geregtigheid en liefde. Skole wat hulle godsdienstige keuses, selfs onbedoeld, op ’n dwingende wyse aanbied, voldoen nie aan die eise van die wet nie, maar sal ook weer moet dink of hulle so Christelik is as wat hulle bedoel om te wees.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.