Skolesaak kan Grondwethof toe

Die saak oor godsdiens in skole sal na verwag­ting uiteindelik na die Konstitusionele Hof verwys word. Hy verwag nie dat daar vinnig ’n uitspraak in die saak sal kom nie.

So sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, oor die hofsaak wat op 15 Mei begin.

Die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demo­kra­sie (Ogod) het ses skole voor die hof gedaag oor hul­­le hantering van godsdiens. Hulle wil hê dat die sko­le verbied word om hulleself Christelike skole te noem, om leerlinge Christelike liedere te laat sing en om Christelike waardes en norme voor te staan.

Claassen sê vir die kerk is dit ’n baie belangrike saak. Die Tussenkerklike Raad van die NG Kerk, die Ge­reformeerde Kerke en die Hervormde Kerk het dit oorweeg om as vriend van die hof tot die saak toe te tree, maar uiteindelik besluit dit is nie nodig nie. Organisasies soos Fedsas wat wel ’n vriend van die hof is, sal die argumente opper wat die kerke sou wou stel.

Die Grondwet en die Skolewet maak volgens Claassen wel ruimte vir die beoefening van godsdiens by sko­le. Die skool se beheerliggaam moet dit toepas op ’n manier wat gelykheid vir almal verseker. Dit beteken dat as daar tydens ’n skool se saalopening met ’n Chris­te­like Skriflesing en gebed geopen word, en daar is byvoorbeeld Moslemkinders in die skool, dan moet daar vir hulle ’n soortgelyke geleentheid wees.

Claassen wys ook daarop dat die aanhef van die grond­wet lui: “Mag God ons mense beskerm. God seën Afrika.” Die grondwet is dus nie vyandig teenoor gods­diens nie.

Godsdienstige oefeninge moet egter so gedoen word dat dit nie die menswaardigheid van ander men­se, die gelykheid van ander godsdiensgroepe of die vry­heid van kinders wat nie daaraan wil deelneem nie, in gedrang bring nie.

Skole moet volgens Claassen begrip en verdraag­saam­heid kweek, eerder as om een sie­ning rigied af te dwing.