Verstaan die tyd beter waarin ons leef

THANK YOU FOR BEING LATE – AN OPTIMIST’S GUIDE TO THRIVING IN THE AGE OF ACCELERATIONS
Deur Thomas L Friedman
Uitgewer: Farra, Straus and Giroux
Resensie: Rudi Swanepoel


Thomas Friedman se jongste boek is ’n moet vir enigiemand wat moeite wil doen om die tyd waarin ons leef beter te begryp. 

Friedman – bekroonde rubriekskrywer vir die New York Times en skrywer van die topverkoper The world is flat (2005) – se tesis in Thank you for being late is dat die wêreld tans ongekende veranderinge (“accelerations”) deur middel van drie massiewe kragte beleef: Moore se wet (tegnologie), markte (globalisering) en Moeder Natuur (verlies van biodiversiteit en klimaatverandering). 

Hy wys uit hoe hierdie drie kragte tegelyk inwerk op die werkplek, politiek, geopolitiek, etiek en ge­meen­skappe. 

Friedman verduidelik op besonder verstaanbare wyse dat 2007 ’n waterskeidingsjaar ten opsigte van teg­nologie was. Indien jy vergeet het: 2007 was die jaar waarin die iPhone bekendgestel is. Hierdie gebeurtenis, tesame met geweldige vooruitgang in silikonskyfies, sagteware, stoorplek (die “cloud”), sensors en net­werke, was instrumenteel in die loslaat van onge­ken­de energie. Samewerking tussen ’n reuse-verskeidenheid mense het moontlik geword, sonder die beperkings van plek en tyd wat in die verlede nodig was om byvoorbeeld in­ligting te druk en te versprei. 

Na ’n breedvoerige verduideliking van onlangse ontwikkelings, raak Friedman meer persoonlik. Hy keer terug na sy tuisdorp in Minnesota en maak onder andere die stelling dat plaaslike gemeenskappe ’n “bolaag van vertroue” kan skep om mense te veranker in ’n tyd van groeiende diversiteit en wat hy noem “digitale bevolkings”.

Die boek is volgepak met feite. Friedman se skryfstyl is toeganklik maar diep, en hy wissel feite met verwysings na onderhoude en gesprekke wat hy met allerlei invloedryke mense in die tegnologiese en kommersiële wêreld gevoer het af.

Aan die een kant maak die snelle veranderinge ’n mens senuweeagtig en angstig, maar Friedman lê ook klem op die feit dat hierdie ’n opwindende tyd is; dat dieselfde energie wat mense kan gebruik om krisisse en oorloë in ’n oogwink mee te skep, ook gebruik kan word om die groot vraagstukke van ons tyd (soos die gaping tussen ryk en arm) op kreatiewe maniere aan te spreek.

Ek het dit veral interessant gevind dat die skrywer argumenteer ten gunste van ’n terugkeer na waardegedrewe godsdiens.

 Thank you for being late is ’n broodnodige boek vir ons tyd.

Ds Rudi Swanepoel is leraar by die NG gemeente Andrew Murray in die Noordelike Sinode.