Deur God kan ons liefhê

Ek het teologie gaan studeer omdat ek vas oortuig is God het my geroep deur Jeremia 1: “Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur.” Ek het nog altyd ’n groot liefde en passie vir God en sy Woord gehad. Ek is lief vir mense en dit was vir my opwindend om God in elke mens se verhaal te soek. In die bediening moes ek net wees.

Umhlanga – die plek wat die naaste aan die hemel is (so sê hulle) – daar het ek ná my studies beland. Ek onthou vele se raad en veral Henri Nouwen, bekende teoloog, se woorde: “Julle lewe gaan nie maklik wees nie en dit moet ook nie. Dit moet radikaal en rusteloos wees; dit moet julle neem na plekke waar julle liewer nie sal wil gaan nie.”

Vinnig-vinnig is die woorde van Henri Nouwen ’n werklikheid in my lewe. Die bediening is baie moeiliker as wat ek dit kon voorstel. My passie en liefde vir God bly vurig brand, maar my roeping verdof en my liefde vir mense is by die deur uit. Mense maak seer.

Ek kon nooit verstaan waar­om God se grootste gebod liefde vir Hom, ons naaste en onsself is nie – dit is dan so eenvoudig? Binne ’n jaar is ek anders oortuig: Ek dink dis die moeilikste opdrag wat God ons kon gee. Vir my voel dit soms totaal onmoontlik. Maar dan onthou ek wat die teoloog John D Caputo gesê het: “Ons is eers werklik op die reis van geloof, hoop en liefde wanneer die weg geblok is; ons is eers op reis wanneer die onmoontlike die pad begin moontlik maak.”

Ek het ontdek daar is niks meer opwindend as om saam met God die weg van die onmoontlike oop te breek nie. Dan besef ons dis nie uit eie vermoë wat ons kan liefhê nie, maar slegs deur God wat die weg vir my oop­breek. Dan eers is die bediening bevredigend en bevrydend.

Elkeen van ons is geroep om unieke spore te trap, die storie van God in en deur ons te laat leef en die groot Ek-is binne-in onsself en ander te vind. Wanneer dit gebeur, sien mense nie meer vir my raak nie, ek sien nie meer vir mense raak nie, maar God. Die bediening bevry, want dit gaan alles om God. Die bediening laat my met verwondering oor God.

Ds Merí Schoeman is predikant in Umhlanga in KwaZulu-Natal.