Verwysings na die Gnostiek

Dr Chris van Wyk van Somerstrand skryf:

Die artikel “Sy aan sy met Jesus” (Kerkbode, 21 April 2017) van André Bartlett belig en motiveer die verhaal en betekenis van Maria Magdalena nie net vanuit die Bybel nie, maar vanuit die “newelyn van die kerklike tradisie”, die Gnostiek. Die herontdekking van die Gno­stiek word verheerlik en as ’n kritiek op die kerkli­ke leierskap- en gesagstrukture gebruik. Trouens, die gno­stiese Evangelie van Maria Magdalena word gebruik om haar verbeelde konflik met Petrus uit te beeld.

Die kunstenaar, Janet McKenzie, is natuurlik wel­kom om haar skildery op gnostiese bronne te baseer, maar ’n mens verwag van ’n teoloog van Bartlett se statuur, en verseker van die Kerkbode self, om met meer omsigtigheid met die Gnostiek om te gaan. Daar is genoeg stof in die Bybel self om die punt rondom vroue-leierskap te maak. Die Gnostiek is in die eerste eeue al afgewys as ’n ketterse beskouing van die dogma van die kerk, om nie te praat van die feit dat die inhoud daarvan baie keer op vals aannames en weerga­wes van die geskiedenis berus nie. Dit is iets wat deur Kerk­bode raakgesien moet word om te keer dat daar verwarring by lidmate ontstaan.

André Bartlett reageer:

Dit is myns insiens ’n wanvoorstelling om die ver­wy­­sings na die gnostiese Evangelie van Maria Mag­da­lena te interpreteer as ’n verheerliking van die her­ont­dek­king van die Gnostiek.

My artikel het daarop gewys dat sy in hierdie geskrif uitgebeeld word as ’n sterk en gerespekteerde leiersfiguur wat veral met Petrus in konflik gekom het oor die toenemende uitsluiting van vroue in die leierskap van die vroeë kerk. Verder was daar ’n aanhaling waarvolgens een van die dissipels sou sê: “As die Verlosser haar waardig geag het, wie is julle dan om haar te verwerp?”

Nie een van die verwysings het iets met die Gnostiek as sodanig te doen nie. Dit is bloot aanhalings wat die konflik in die vroeë kerk oor die posisie van vroue in die kerklike lewe weerspieël. Hierdie verwysings word gebruik om ons te help om dit wat in die Bybel oor Maria Magdalena gesê word, te herontdek – in teenstelling met die onbybelse wyse waarop sy in ’n groot deel van die kerklike tradisie uitgebeeld word.

Die wyse waarop Maria Magdalena as volwaardige dissipel van Jesus uitgebeeld word, word in die arti­kel met ’n hele reeks Bybelse verwysings ondersteun, onder andere met ’n verwysing na die feit dat sy volgens sowel die Markus- as die Johannesevangelie die eerste persoon was wat Jesus na sy opstanding uit die dood ontmoet het en deur Hom gestuur is om die opstandingsboodskap aan die ander dissipels oor te dra.

Ek aanvaar dat dit nie kwaadwillig bedoel is nie, maar ’n misverstand is om die artikel te konstrueer as ongekwalifiseerde kritiek op die kerklike leierskap- en gesagstrukture. Wat wel in die artikel gedoen word, is om in lyn met die gereformeerde tradisie kritiek uit te spreek teen ’n hiërargiese funksionering van sulke strukture. Verder word die patriargale oorheersing van hierdie strukture aan die hand van Bybelse gegewens krities belig. Indien die artikel die kerk help om in lyn met die Reformatoriese beginsel Ecclesia reformata semper reformanda est voortdurend selfondersoek te doen oor die manier waarop leierskap funksioneer en die wyse waarop vroue die geleentheid behoort te kry om hulle regmatige rol te speel, sal dit my groot vreugde verskaf.