Hoog bo alle magte

Hemelvaart is waarskynlik die een Christelike fees wat deur die eeue soos ’n stiefkind behandel is.

Dit het onder andere te doen met die feit dat dit baie moeilik is om rasioneel te verduidelik wat met Jesus se hemelvaart presies gebeur het.

In ’n pre-moderne era was dit nog eenvoudig om Jesus se hemelvaart in ruimtelike sin te verstaan. Die aarde waar Jesus vir ongeveer 33 jaar geleef het, waar Hy gekruisig is en waar Hy uit die dood opgestaan het, is “hieronder”, terwyl die hemel waar God is, “daarbo” is. Teen hierdie agtergrond word die hemelvaart van Jesus verstaan as ’n ruimtelike oorbeweeg van die aarde hieronder na die hemel daarbo. Hy was “hier” en nou is hy “daar”.

Hierdie pre-moderne wêreldbeeld is natuurlik lankal agterhaal. Die hemel waar God is, word nie meer gesien as ’n plek “daarbo” nie, maar as ’n ander dimensie as dié waarbinne ons van dag tot dag bestaan. God is immers – so het die Kerk nog altyd geglo – alomteenwoordig, op ’n manier wat nie in terme van ruimtelike denke verduidelik kan word nie.

So gesien beteken die hemelvaart van Jesus dat Hy ná sy opstanding oorbeweeg van die een, aardse dimensie na ’n ander, hemelse dimensie. Anders gesê: dat Hy in die volle teenwoordigheid van God inbeweeg het, en dat Hy nou is waar God is. En dit is nie beperk tot een plek nie, maar oral.

Die oudste belydenisskrifte van die kerk praat dan ook van die hemelvaart in dieselfde asem as wat daar bely word dat Jesus “sit aan die regterhand van die Vader”. Dit beteken dat Jesus sedert die hemelvaart dáár is waar God regeer, en dat die wyse waarop God regeer in lyn is met die karakter van Jesus soos dit in die Bybel vir ons beskryf word.

Die hemelvaart is dus nie ’n ruimtelike gebeurtenis nie, maar ’n kosmiese gebeurtenis, waar Jesus van een dimensie in die kosmos oorbeweeg na ’n ander dimensie in die kosmos.

Hierdie kosmiese aard van die hemelvaart word weerspieël in die digitale kunswerk The Ascension of Jesus van die kontemporêre Amerikaanse kunstenaar, Nathan Mark Phillips. Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat hy nie ’n gewone aardse gebeurtenis uitbeeld nie, maar iets wat eerder verband hou met die misterie van God se werksaamheid in die kosmos.

Die oorheersende objek in die kunswerk is ’n kruis waarbinne die res van die verhaal van Jesus uitgebeeld word. Dit begin met ’n enkele atoom aan die onderpunt van die kruis, met agtereenvolgens van onder na bo die geboorte van Jesus, sy aardse lewe, sy ontmoe­tings met sy dissipels ná sy opstanding en sy heersersposisie ná sy hemelvaart. Al hierdie gebeure speel binne die raamwerk van die kruis af.

In sy kunswerk maak die kunstenaar gebruik van verskeie geykte motiewe uit die Christelike kunstradisie. Jesus met van sy dissipels weerskante van hom is ’n tipiese wyse waarop die laaste ontmoeting voor die hemelvaart in die kunstradisie voorgestel word – met portrette van Petrus en Paulus ook nog aan die weers­kante daarvan. Dit is ook die geval met Jesus wat ná sy hemelvaart met sy regterhand in ’n seënende gebaar uitgebeeld word.

’n Ander motief uit die kunstradisie wat hier gebruik word, is die sogenaamde “mandorla”, ’n amandel- of sirkelvormige omraming wat tradisioneel gebruik word om Jesus in sy verheerlikte staat voor te stel. In hierdie kunswerk word dit gebruik om die heerlikheid van sowel die aardse Jesus as die opgestane Here aan te dui.

Die rooi en goud wat as oorheersende kleure in die kunswerk gebruik word, dui op die koninklike aard van dit wat uitgebeeld word. Daarmee word die betekenis van Jesus se hemelvaart as sy troonbestyging tot “aan die regterhand van die Vader” onderstreep. In die boonste linkerhoek is daar ’n fragment van die sterrehemel waarmee die kosmiese aard van die gebeure verder beklemtoon word.

Daar is twee gedeeltes wat by my opgekom het, terwyl ek nagedink het oor die wyse waarop die hemelvaart in hierdie kunswerk uitgebeeld word. Die eerste is Filippense 2:5-11 waar die verheerliking van Christus, soos in die kunswerk, direk in verband gebring met sy selfontlediging en kruisdood:

“Hy (Christus Jesus) was gehoor­saam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en aan Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.”

Die tweede gedeelte is Efesiërs 1:20-21 waar gesê word: “(God) het Hom (Jesus) in die hemel aan sy regterhand laat sit: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.”

Dit is wat ons met Hemelvaart vier: dat dieselfde Jesus wat God se liefde vir ons kom voorleef het, saam met God regeer tot in ewigheid.

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.