Sing en dans … omdat ons gereformeerd is!

Een van die treffendste opmerkings wat prof Jürgen Moltmann gemaak het tydens sy onlangse besoek aan Suid-Afrika, was dat die Christendom ’n godsdiens van vreugde is – ’n godsdiens van sing en dans!

Hy sê dat die kruis, wat oor pyn en lyding gaan, vir ewig ingebed staan tussen twee momente van onuitspreeklike vreugde: Jesus se geboorte en sy opstan­ding! Daarom moet ons deur die bril van hierdie vreug­de na die kruis en Jesus se lyding kyk.

Doen ons dit, kom ons agter dat lyding vir gelowi­ges altyd tydelik is – dat dit ’n begin en ’n einde het, maar dat die vreugde van die stal en die leë graf ewig is – ’n bron van vreugde wat ons te midde van ons omstandighede laat sing en dans!

Hoe pas dit by ons gereformeerd-wees in? het ek onwillekeurig gewonder – want vir baie gereformeer­des is godsdiens ’n saak van stroefheid en erns. Ja, amper permanente droefheid as ek aan my kinderdae te­rug dink. Ons is immers in sonde ontvang en gebore – sondaars wat gedurig daaraan herinner moet word dat ons ons sonde moet bely! Dat dit waar is, kan nie ontken word nie, maar ongelukkig haak ons soms daar vas.

Luther wil ons 500 jaar later reghelp. Gereformeerd-wees, sou Luther wou sê, beteken juis dat jy uit genade vrygemaak is omdat jy glo! Hy het oor hierdie ontdekking in sy eie lewe geskryf: “Daarop het ek ge­voel dat ek weer gebore word en dat ek deur die oop deure ’n paradys binnegegaan het.” Groter rede tot vreug­de is daar mos vir geen mens op aarde nie – en dit is die wese van ons gereformeerde tradisie!

Hierdie gedagte word onderskryf in die sogenaamde Kort kategismus van die Westminister-gemeente wat uit 1643 dateer. In antwoord op die vraag: “Wat is die mens se hoofdoelwit?” lui die kategismus: “Om God te prys en hom vir ewig te geniet.”

Gereformeerd-wees beteken dat ons vrolik en vry kan leef – want ons is vrygemaak! Daarom is ons gods­diens ’n godsdiens van vreugde en daarom kan ons sing en dans! Miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat ons op die klanke van die melodie van gereformeerd-wees wat oor 500 jaar na ons aangesweef kom, moet begin sing en dans.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.