Gelowig en groen

Vergelyk ons die aarde se bogrond met die mens se vel, lyk die pasiënt erg verweer.

Vrugbare bogrond is onontbeerlik vir kosproduksie ten einde die groeiende bevolking te voed. Ironies is land­bou ’n groot bydraer tot gronderosie – iets wat kos­pro­duksie en voedselsekerheid aan bande lê. Oorbewerking en -beweiding en ontbossing lei tot woestynbekruiping.

In Suid-Afrika spoel jaarliks sowat 3 ton bogrond per hektaar weg, terwyl slegs 0,1 ton natuurlik vorm. In ongerepte ekosisteme verhoed plantwortels wel die wegvoer van bogrond sodat water en nutriënte behoue bly.

Kan ons keer dat ons pasiënt ’n vroeë dood weens blootstelling tegemoet gaan? Ja tog, indien ons soos die Willemse-broers, mega-boere van Riversdal, begin om grond te herwaardeer deur dit nie bloot as ’n chemiese fabriek te beskou nie, maar as ’n waardevolle vennoot in die produksieproses wat verdien om gekoester te word.

Daarvandaan beweeg ons na volhoubare landbouprak­tyke wat voedselsekuriteit uiteindelik haalbaar maak.