As deurstap jou deurdring

Die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe het op Woensdag 1 Maart 2017 ’n groot kunswerk voor die Fakulteit Teologie se hoofingang op Stellenbosch opgerig. Woensdagnag, 8 Maart, het ’n stormsterk suidoostewind die kunswerk verniel en moes dit om veiligheidsredes verwyder word. ANNALISE WIID was bevoorreg om te gaan “deurstap” voor die wind begin waai het.


Dit is belaai met simboliek – van watter kant jy dit ook al bekyk. Beide die kunswerk, en die wind. En waag jy om, letterlik, deur die kuns­werk te stap, waag jy ook dat dit onuitwisbare spore in jou verbeelding trap.

’n Enorme net span tussen die twee hoë, sterk-geankerde palmbome voor die kweekskool. Wat gaan hier aan? Mense wonder instinktief: Wat beteken dit? Staan nuuskierig nader. Klein papiertjies, flertsies wit en geel, sit aan die net vas, soos aan ’n web. Dit wapper tussen die bome en die baie blou lug; hang tussen hemel en aarde.

Kom ’n mens nog nader, ervaar jy: Die halfdeursigtige net sper nie af nie. Dit verdeel nie noodwendig nie. Daar is ’n opening. Byna soos ’n oopgevoude tentflap. ’n Mens kan daardeur gaan. Daar’s ’n anderkant.

Eers af by die kweekskooltrappies – dorp se kant toe. Deur die net. Dan van die straat se kant af weer terug deur die wasigheid. Van een perspektief na die ander. Simbolies, aktueel, hier op die “kerkgrond” waar teologiese debat en mens-waarde mekaar voortdurend soek en deurkruis. Hier waar leiers gekweek, of soos Strijdom sê, “grootgemaak word”.

In die kweekskool-konteks kom die Bybel-beeld van ’n sluier onwillekeurig na vore: Wat verdoesel; wat kennis, begrip kan verhoed. Of wat weggeneem word vir ’n helderder sien; wat God kan onthul. Ook die voorhangsel-beeld – wat skeur en heeltemal ’n nuwe, onverwagte deurgang skep. Geheel nuwe moontlikhede oopmaak.

Die detail van die papierflentertjies aan die net val ’n mens op. Dit is armbandjies. Elk met sy eie nommer. Soos toegangskaartjies by events. Of hospitaalbandjies met ’n operasie. Wat jou merk. Eien. Bevestig: Jy was daar. Jy het daardie spesifieke ervaring beleef. Deurleef.

“Elke mens ervaar waterskeidings,” sê Strijdom: “Gebeure, oomblikke, besluite, gedagtewendings, wat die lewe onherroeplik verander. Omkeer.”

Die anastrofie van deurstap. Waar kom hy aan dié vreemde, interessante titel vir sy installasie? “Ek het by professor Daniël Louw gaan kers opsteek. Vir hom gevra: Gee my een woord. Nie iets so voorspelbaar soos ‘metamorfose’ nie. Iets wat méér sê …”

Soos die kunswerk, lok die titel jou ook om te vra: Wat beteken anastrofie dan? Anastrofie, as taalverskynsel, is om die normale sinskonstruksie te skommel; om woorde in ’n ander orde as gewoonlik te gebruik; ’n omkeer van die konvensionele. Sodat ’n mens die klem anders sien, hoor, ervaar. Met ’n verskerpte bewussyn. Dit is presies wat Strijdom van der Merwe se kunswerke doen.

Langs die een voor die kweekskool was hierdie verduideliking van anastrofie: “transitive meaning to upset, to turn upside down, to turn round. In die Hebreeus verwys dit na hālak wat ’n weg aandui wat óf positief óf negatief kan wees. Dit dui op die uitdaging om kennis in praktyk oor te skakel en dan ’n ander pad te stap; dit dui ook op ’n turning movement. Die betekenis van die konsep is binne ’n meer spirituele raamwerk van houdingsverandering in die lig van singewende momente.”

Strijdom self is nie ’n kerkganger nie; wel ’n baie spirituele persoon. “Vir jare, sedert 1980 al,” vertel hy, “roep die mooi ruimte voor die kweekskool my. En hoewel ek die installasie daar opgerig het, is dit nie noodwendig godsdienstig nie. Dit moes toeganklik bly vir enigeen. Interessant. Verrassend. Selfs vir ’n ateïs. Dit het verskillende betekenisse vir verskillende mense. ’n Kankerlyer, wat ná behandeling skoon is, is aangegryp deur die kunswerk; deur die gevoel wat dit by haar gelaat het: Ek is daardeur. Ek is anderkant uit.

Prof Johan Cilliers, van homiletiek, skryf aan Strijdom ná die verwoestende wind: “Dalk is dit ook nie vreemd nie … jou kunswerke is so deel van die natuur, dat die natuur dit (mettertyd) ook weer terugneem … Ek het gister vir die studente uit Jesaja voorgelees: Mense is soos ’n veldblom – as die wind(!) daaroor waai, is dit weg … Dankie dat ons die skoonheid/broosheid van jou kunswerk kon beleef …”

Prof Hendrik Bosman, van Ou Testament, en waar­nemende dekaan, skryf:

“Dankie vir die waardevolle bydrae wat jy gelewer het om nadenke te stimuleer oor onder andere die toeganklikheid van die Fakulteit Teologie. Jou kunswerk kan as ’n verwysingspunt gebruik word in toekomstige besprekings oor transformasie, werwing van nuwe studente, ensovoorts …”

Vir Strijdom van der Merwe gaan dit juis hieroor: Die konsep sowel as die gesprekke en nadenke wat dit tot gevolg kan hê. Om ’n kunswerk soos Die anastrofie van deurstap lyflik te beleef, is om daarná voortdurend ’n rykdom saam te dra: Vir altyd staangemaak in die landskap van jou verbeelding.