Skepping, mense is belangrik

“Ons is bly. God se skepping is belangrik en God se mense is belang­rik.”

So sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, oor die hofuitspraak waarin daar voorlopig ’n stokkie gesteek is voor die Suid-Afrikaanse regering se planne met kernkrag.

Die NG Kerk is lid van die South African Faith Communities Environmental Institute (Safcei), die klein organisasie wat saam met die omgewingsgroep Earthlife Africa die hofoorwinning oor die regering behaal het. Claassen sê dit is verstommend dat so ’n klein organisasie dit kon vermag.

Die hof het teen die regering beslis omdat dit nie die regte deursigtige prosedures gevolg het nie. Die uitspraak gaan nie die regering heeltemal stuit nie, maar dit gaan moeiliker wees om hulle planne weer op dreef te kry. Dit gaan langer vat en hopelik is daar dan al ’n ander regering, sê Claassen.

Vir die kerk is daar groot oorwegings op die spel, sê Claassen. Die een is dat die besteding aan kernkrag verskriklik hoog sou wees. Dit sou die armste mense die ergste tref, omdat geld wat aan maatskaplike kwessies bestee sou kon word, vir kernkrag sou moes gaan.

Die tweede oorweging is die omgewing self. Kern­krag gaan gepaard met baie risiko’s. Die kerk is ten gunste van son- en windkrag, bronne waar­van Suid-Afrika albei baie het. Boonop is son- en wind­­krag we­sen­lik goedkoper as kernkrag.