‘Ek bid dat hulle een sal wees’

In die jaar van Reformasie 500 is goeie algemene verhoudinge tussen ons mense en tussen verskillende kerke een van ons groot fokusareas. Om groter geloofseenheid en samewerking tussen ge­loofs­gemeenskappe en kerke te bevorder en te vestig.

Reformasie 500 roep onmiddellik die geskiede­nis van die reformasie, maar ook die verhouding tus­sen die Katolieke Kerk en die Protestantse kerke op.

Ons sluit graag by ’n klein stukkie kosbare gemeenskaplike geskiedenis aan. Die enigste beeld wat Michelangelo uit eie keuse gemaak het, staan ook bekend as Good Friday. Al die ander werke was, volgens oorlewering, opdragwerke. Hierdie werk het hy bedoel vir sy eie graf. Hy het gekies om Niko­demus uit te beeld wat die volle gewig van die lewelose Christus op hom neem na die kruisiging. Hy plaas sy eie kop op die lyf van Nikodemus, en belyn sy gesig met die gesig van die gekruisigde Christus.

Kom ons dink tydens Reformasie 500 weer hieroor na. Michelangelo het, na bewering, hierdie beeld gemaak na aanleiding van die genade-teologie waaraan hy blootgestel is in ’n Protestantse Bybelstudiekring ongeveer in 1530. Dus kort na die begin van die Reformasie. Na die vervolging van sy Bybelstudievriende en die dood van sy beste vriend in daar­die kring, het hy besluit om hierdie beeld te maak. Die beeld is sy geloofsbelydenis.

Die beeld is geplaas naas beelde wat die sterwens­proses en opstandingsproses van die mens uitbeeld (Dusk and Dawn). Die slapende en ontwakende gesigte van laasgenoemde beelde is ook belyn met dié van die gekruisigde Christus, en nie die altaar nie.

Daardie belyning met die gesig van die ge­krui­sigde Christus is die enigste hoop vir die Rooms-Ka­tolieke vriende, soos dit was vir die meester, Miche­langelo. Hiermee stel hy sy lewe in ’n diens­kneggestalte voor, met as enigste reddingsmoontlikheid die gekruisigde Christus. Nie kerklike dogma, wat byvoorbeeld die altaar verhewe plaas nie, maar Christus alleen.

Ons besef opnuut dat van die ongeveer 2 000 jaar van die geskiedenis van die Christelike Kerk, ons as Gereformeerdes (en Protestante in die algemeen), 75 persent van daardie geskiedenis deel met ons Katolieke broers en susters. Vir alle opregte gelowiges was die belyning met die gekruisigde Chris­tus die goue draad van hulle geloof. Die draad wat ons almal aan mekaar hou. Die verskil is net dat die Katolieke Kerk nie geskeur het nie. Ons ken die verhaal van die Protestantse kerke in hierdie verband. Strydig met Jesus se smeekgebed in Johannes 17.

Ons gebroke wêreld smag na die lewe wat voort­vloei uit die gekruisigde Christus. Om met Hom belyn te wees is die regte begin vir ’n lewe van groter eenheid en versoening.

Is Reformasie 500 nie ’n ideale geleentheid om “terug te verenig” nie. Al is dit net met goeie verhou­dinge en samewerking. In Namibië voel ons gedring na geleenthede om ons geloofsgemeenskappe by­me­kaar uit te bring en samewerking te bevorder.

In ons klein dorpie werk ons en die Lutherse Kerk, die Katolieke Kerk, die Agapé en ander kerke heerlik saam. Ons fokus op dit wat ons deel en nie verdeel nie, en die Here seën ons.

Het Hy nie die een Gees van die gekruisigde Chris­tus op sy hele kerk uitgestort nie? Bly die soe­ke na eenheid dan nie altyd ’n roeping nie?

Dr André Olivier is moderator van die NG Kerk in Namibië.