Liturgie, letterkunde en lewe loop saam

Prof Cas Wepener is ’n praktiese teoloog aan die Universiteit van Pretoria, maar hy skryf ook fiksie. NICO SMIT het met hom gesels.


Jy het drama op Stellenbosch studeer. Waar­van­daan die teologie?

Inderdaad, ek het op Stellenbosch met drama en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke begin. Die letterkunde was van kleins af in my bloed. Daar was egter ook ’n oortuiging wat al sterker geraak het, dat ek ook ’n roeping binne die teologie het. En wat ’n wonderlike ontdekking was dit nie toe ek uitvind dat daar ’n vakgebied binne die teologie, die veld van die liturgiek én homiletiek, is waarin my liefde vir letterkunde en drama uitgeleef kon word.

Jy was vir ’n aantal jare gemeenteleraar en word toe professor in praktiese teologie. Het jou bedieningsjare jou voorberei vir professor-wees?

Ek dink ’n mens leer meer as gemeenteleraar as wat ’n mens besef. In kort en soos my een mentor, dr Coenie Burger, vir my gesê het: Jy kan onmoontlik praktiese teologie doseer, sonder enige bedieningservaring. Hy was reg.

Die veld waarin jy doseer, naamlik liturgiek, is nog altyd van kardinale belang binne die NG Kerk. Is daar ontwikkeling in dié veld?

Baie het in die liturgie van die NG Kerk verander en ek glo ons Eredienshandleiding (2010) is ’n simbool daar­van. Indien ’n mens dié dokument fyn bestudeer, sien jy ’n vloeibaarheid en openheid wat nie vroeër daar was nie. Ek sal sover gaan om dit ’n liturgiese gasvryheid te noem en dat ons nie meer in uitsluitende kate­gorieë kies vír of téén klassieke of kontemporêre style nie en deeglik besef dat mense se voorkeur van hoe hulle wil aanbid, verskil.

Jy het ook ’n MA in Afrikaans voltooi. Hoe belangrik is dit vir ’n predikant om (goed) te kan skryf?

Kom ek probeer so antwoord: In die liturgie en predi­king is die einddoel goeie kommunikasie. Dit kan op verskeie wyses en met hulpmiddels gedoen word. My oortuiging is dat die beste medium tot ons beskikking taal is en dan juis goed gekose, oorwoë en beeldryke taal. Die wêreld van die bediening is ’n taalwêreld en skryfvaardigheid sal verseker in enige leraar se guns tel. Taal is die basis en dus ís skryf belangrik.

Ons weet dat jy nie net teoloog is nie, maar ook kranige skrywer. Waar­om skryf?

Soms het ek ’n storie wat ek graag op ’n spe­sifieke wyse wil vertel. Meestal weet ek nie wat die storie is wat ek wil vertel nie, maar ek weet wel ek moet dit vertel. Skryf is soms ’n soort ekstase, maar meestal is dit net vrek harde werk en tot die eindproduk verskyn ’n moeisame proses van skryf en herskryf.

Dominee-wees en skrywer-wees het dikwels ’n negatiewe konnotasie. Jy gooi die beeld omver – na Dubbelfoto en Syferfontein. Waarom is daar hierdie negatiewe beeld tussen dominee- en skrywer-wees?

Ek is nie seker wat die redes is nie en of dit nog so is nie. Ek glo egter nie die gemiddelde leser sou kon raai dat die skrywer van Syferfontein ook teoloog is nie. Een van my PhD-studente het nadat hy die roman gelees het, gesê dat hy vermoed dat ek voortaan heelwat minder preekbeurte gaan kry … Enige skrywer word egter deur kennis beïnvloed wanneer daar geskryf word en insgelyks beïnvloed aspekte soos simboliek, ritueel, tradisie en historiografie, wat eie aan liturgiese navorsing is, my eie skryfwerk.

Hoe dink jy sluit liturgie en letterkunde by mekaar aan en hoe ondersteun dit mekaar? Elkeen is uniek en het sy eie reg, maar is tog interafhanklik van mekaar.

My benadering sal ek in twee meer akademiese woor­de noem – “intertekstueel” en “inkulturerend” – maar die gedagte is eenvoudig. Ek glo dat die liturgie in ons eie dag baie kan baat by ons eie Suid-Afrikaanse letterkunde. Ons eie letterkunde kan ons help sodat elke liewe voorbeeld of beeld in my preek nie uit Duitsland of Engeland kom nie, maar uit eie bodem. Deur dus intertekstueel die letterkunde te betrek, kan ons die liturgie en prediking nog beter in ons eie konteks hiér in (Suid-)Afrika laat grondvat.

Johanna, jou nuutste boek, verskyn binnekort, gee vir ons ’n voorsmakie daarvan.

Ja, Johanna verskyn in Oktober by Protea Boekhuis. Dis ’n liefdesverhaal wat handel oor die verhouding tussen twee lesbiese vroue vanaf hulle ontmoeting tydens hulle studies in die 1950’s tot en met Johanna se dood. Meer as dit …

Wat lê in die volgende drie jaar vir Cas Wepe­ner voor (DV)?

Ek is opgewonde oor ’n boek met die titel, Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe tekste van Karel Schoeman, wat later vanjaar by African SUN Media gaan verskyn. Verder hoop ek om die liturgie, prediking en letterkunde in my akademiese werk verder te verken.

Die land is deurmekaar en onrustig. Die groot vraag, het die teologie ’n stem om iets te sê?

Die wyse waarop gemeentes en lidmate aktief hier in ons land met sy uitdagings oor die laaste paar jaar betrokke geraak het, glo ek is alreeds ’n kragtige stem. Sodoende het die liturgie alles te make met hoe mense lewe – vanaf betrokkenheid by ’n ontwikkelingsprojek tot en met sinvolle deelname in ’n protesoptog wanneer daarvoor gevra word. Calvyn se droom was dat liturgie en lewe in ’n noue verbondenheid sal staan en dít sien ek wel gebeur.