Opstanding en lewe na die dood (2)

In ’n brief in Kerkbode word vermeld dat ek in ’n vorige bydrae oor die tema van opstanding en lewe na die dood, nie die “OT-getuienis volledig op die tafel” sit nie. In dié verband word Job 19:25-26 en Psalm 16:10-11 genoem, terwyl daar ook vermeld word dat die tekste wat ek wel noem, nie bespreek word nie.

Ruimte hier is beperk en die bedoeling is om lesers se gedagtes te prikkel en hulle uit te nooi om self ook verder te lees en te dink. Bydraes hier word nie aangebied as uitgewerkte dogmas nie, maar bied perspektiewe vanuit die Ou Testament-navorsing met die bedoeling dat medegelowiges uitgenooi sal voel om opnuut die rykheid van Gods Woord binne sy antieke konteks te geniet.

In die boek wat sy naam dra, sien ons onder meer dat Job besig is met ’n hofgeding teen God. Hy voel hy het niks verkeerd gedoen nie en dat God hom onregverdig laat ly. Sy familie en vriende het hom almal versaak – hy voel afgesny van God en naaste. Een van die heel ergste dinge wat met iemand binne die wêreld van die Ou Testament kon gebeur was dat jy van die Here en van jou naaste afgesny is. Binne hulle wêreld was so ’n mens se dood byna onafwendbaar.

Indien ons ons interpretasie op die Hebreeuse teks begrond én Job 19 binne die konteks van dié boek lees, sien ons dat Job onder meer soek na ’n skeidsregter wat onpartydig tussen hom en God sal beslis (9:33-34). Hy verlang na ’n losser (onder meer ’n naaste familielid wat byvoorbeeld iemand se dood wreek/skuld delg/met sy weduwee trou) wat laaste (in die hofgeding) sal opstaan en vir hom as losser sal intree – al is dit na sy dood. Meer nog egter – sy wens is om God nog in hierdie lewe te sien (Job 19:25-26).

In Psalm 16 ontmoet ons die gelowige wat ontdek dat die bron van ware vreugde God se teenwoordigheid in ons lewe is. Teenoor hierdie vreugde staan die doderyk. In die doderyk – so het die mense destyds geglo – is jy afgesny van God se teenwoordigheid. Binne die konteks waarin Psalm 16 beslag gekry het gaan dit waarskynlik om ’n mens wat ten aansien van die dood of doodsgevaar uitstyg bo sy vrees vir die dood, omrede hy meer en meer bewus word van God se absolute teenwoordigheid. God se teenwoordigheid word bevestig daarin dat Hy die gelowige “die weg van die lewe bekend maak”, met ander woorde, leer hoe om in hierdie lewe te leef.

Wanneer die skrywer van Handelinge in Petrus se toespraak Psalm 16 aan die bod laat kom, is dit om ’n nuwe teks (Hand 2) te skep en dit in die tradisie van Israel (Ps 16) te begrond. ’n Psalm wat kom uit ’n tyd lank voor die koms van Christus (tradisie van Israel), word binne ’n konteks ná Christus deur die Handelingeskrywer/Petrus herinterpreteer.

Met ons belydenis dat beide die Ou en die Nuwe Testament die Woord van God is, kan gelowiges enersyds aan die hand van ’n lees van Psalm 16 binne die konteks van die Ou-Testamentiese wêreld, vanuit die absolute oortuiging van God se teenwoordigheid, en vreesloos die uitdagings van ons dag die hoof bied. Andersyds kan gelowiges op grond van Handelinge 2 vandag sonder vrees en met oortuiging leef vanuit dié teks se getuienis: “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan” (Hand 2:32).

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.