Sewe ondermynende tendense

Uit al die getuienis tot hulle beskikking identifiseer die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke sewe maniere waarop die president se magselite die staat ondermyn.

  1. Hulle verkry beheer oor staatsbates deur die ka­ping van ondernemings in staatsbesit. Dit doen hulle deur gedurig die strukture waardeur hierdie ondernemings beheer en bestuur word, te verswak. Die SARK noem voorbeel­de van mense wat laat gaan is en ander wat aangestel is by die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom, Denel en Transnet, asook die aan­stel­ling en ontslag van ministers en senior amptenare by departemente wat staatsondernemings raak.
  2. Hulle verkry beheer oor die staatsdiens deur be­kwame professionele mense uit te werk. Dit sluit amptenare en ministers in, byvoorbeeld by die Tesourie. Nog ’n voorbeeld is dat amptenare van Eskom geskors is nadat hulle gewaarsku het dat die steen­kool wat gelewer word deur nuwe myne waarmee kontrakte gesluit is, substandaard is.
  3. Hulle verkry toegang tot besigheidsgeleenthede deur regulasies tot hulle voordeel en tot nadeel van Suid-Afrikaners te verswak. Die verslag vertel die verhaal van hoe die Idwala- en Brakfontein-my­ne toegelaat is om te myn sonder waterlisensies en terwyl hulle die omgewing verniel.
  4. Hulle verkry beheer oor die staatsfinansies. Een episode in hierdie verhaal is die ontslag van Nhlanhla Nene as minister van finansies nadat hy aangevoer het dat die beoogde kontrakte oor kern­krag onbekostigbaar duur is.
  5. Hulle verkry beheer oor strategiese aankope deur doelbewus tegniese sleutel­instansies en for­mele regeringsprosesse te verswak. Die kern­krag­projek word uitvoerig bespreek as ’n voorbeeld hiervan.
  6. Hulle verseker dat intelligensie- en veiligheidsdienste lojaal is aan hulle. Die SARK wys op die aanstelling van verskeie mense en die viktimisering van ander in sleutelposte by die Nasionale Vervolgingsgesag, die Polisie se Eenheid vir Misdaadintelligensie, die Valke, die Polisie se Onafhanklike On­der­soek-direktoraat en die Ministerie van Polisie.
  7. Hulle stel parallelle regerings- en besluitneming­strukture in wat die uitvoe­rende gesag ondermyn. ’n Voorbeeld daarvan is interministeriële ko­mitees wat nie deursigtig is nie en nie aan die parlement verantwoording doen nie. Dit laat die vraag of die kabinet nog ’n plek is vir eerlike gesprek oor beleidsake.

Lees ook: Staatskaping – Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se verslag.