Gewone lidmate moet die verhoudinge bou

“Gewone lidmate is die mense wat op spontane en die mees gemaklike maniere nuwe geloofsgemeenskap met buitestanders skep, en moet daarom onbelemmerd ruimte kry om dit te doen,” het dr Michael Moynach, tydens ’n konferensie oor die beliggaming van God se sending in die wêreld in Stellenbosch gesê.

Moynach, ’n teoloog uit die Verenigde Koninkryk, is deel van die Fresh Expressions-beweging wat binne gevestigde kerke ook ruimtes wil skep vir alternatiewe uitdrukkings van die evangelie. Dit betrek mense in geloofgemeenskap wat nooit in ou, tradisionele kerke tereg sou kom nie.

Jesus, aanbidding, die Bybel en dissipelskap staan sentraal in hierdie ruimtes, het Moynach vertel. Mense wat te diep gevorm is deur tradisionele kerklike praktyke, soos predikante, sukkel dikwels om oop en leerbaar te wees vir die fyn ragwerk van gees­telike aanknopingspunte met mense wat tans op soek is na sin en betekenis.

Die konfe­rensie, wat op 15 en 16 Mei plaasgevind het, het aan­dag gegee aan self­verstaan en be­die­ningspraktyk van die vroeë kerk en die kerke van die Reformasie.

Prof Marius Nel, wat Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch (US) doseer, het verwys na die passie wat Christus in die eerste Christene ontketen het, en gesê die kerk het nodig om die evangelie met energie en waagmoed te beliggaam.

Die Nuwe Testament ken nie so iets soos kerklike bloudrukke nie, slegs prototipes. Bloudrukke is fyn uitgewerkte, onveranderlike planne. Prototipes beliggaam soepelheid en risiko ter wille van die goeie nuus in Jesus Christus.

Dr Pieter van der Walt, PSD: teologiese navorsing, het vertel hoe radikaal die boodskap van God se liefde in die tyd van die vroeë kerk was. Niemand het gedink God kan lief wees vir mense nie.

Nuwe lig het ook op Johannes Calvyn geval. Prof Robert Vosloo, wat sistema­tiese teologie aan die US doseer, wys uit hoe Calvyn ’n Europese vlugteling uit Frankryk was en ’n groot deel van sy bediening in Genève, ’n stad met duisende ontwortelde vlugtelinge, deurgebring het. Wanneer mens Calvyn se geskrifte teen die agtergrond van ontworteling lees, word sy teologie sag en vertroostend. Hy leer ons om ons broer en suster in die ander, die vreemdeling, te ontdek.

Aandag is ook gegee aan die wyse waarop sogenaamde hoofstroomkerke tans die evangelie beliggaam deur hulle kerkorde of kerklike bedieningspraktyke. Verteenwoordigers van die NG Kerk, Gereformeerde kerke, Hervormde kerk, Lutherse kerk, Metodiste, Anglikane, Kongragasionaliste, Presbiteriane en Vineyard het open­lik gesels oor die uitdagings wat hul genootskappe beleef.

Die dringende uitdaging om die NG Kerk se kerkorde missionaal te herskryf en herinterpreteer is sterk deur dr Coenie Burger en prof Nelus Niemandt beklemtoon. Niemandt is sterk afwysend oor ’n juridiese hantering van die kerkorde asof dit ’n wetboek is.

Vir Burger is die kerkorde, op voetspoor van Calvyn, ’n missionale bedienings­plan wat nie ’n bloudruk is nie. Dit moet ruimte maak vir kontekstuele prototipes en moet versigtig wees om nie bloudrukke te skep nie.

Bybel-Media het ’n belangwekkende nuwe Suid-Afrikaanse boek oor missionale teologie, Cultivating missional change, bekendgestel.

Die kernvraag vir kerkwees, soos die konferensie uitwys, is of ons die omgee van God vir mense in hulle konteks kan beliggaam. Radikale, liefdevolle vrygewigheid is ’n sentrale kenmerk van die Christelike kerk.