SARK vra gebedskringloop vir SA

Deurdrenk ons land met gebed!

Dít is die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se ernstige versoek aan gemeentes en geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika.

Die versoek kom nadat die SARK onlangs ʼn staatskapingsverslag bekend gestel het.

Christene word opgeroep om te bid “vir die belofte van ʼn postapartheid-Suid-Afrika”.

“Die belofte” word op resources.christians.co.za verduidelik as “’n regverdige, versoende en gelyke samelewing, vry van enige vooroordele ten opsigte van ras, stam, herkoms en geslag, vry van korrupsie en ontbering, en met genoeg kos en skuiling vir elke burger en elke kind wat gebore word om tot hulle Godgegewe potensiaal te kan groei.”

Op dié webwerf is ʼn gebedsboekie – wat ook in pdf- en powerpoint-formaat beskikbaar is – wat deur gemeentes afgelaai kan word. Dit bevat ʼn 10-dag-gebedskringloop wat uit die Ons Vader-gebed saamgestel is en sluit ook gebede van biskop Zipo Siwa, president van die SARK, en ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, in.

ʼn Video, waarop die Red Locations Children’s Choir die lied A Plea for Africa sing, kan ook hier afgelaai word. Dié koor bestaan uit kinders tussen 10 en 16 jaar van die New Brighton-plakkerkamp in Port Elizabeth.

Die bedoeling was vir gemeentes om dié materiaal te gebruik vanaf Pinkstersondag tot Hemelvaart, maar dit bly aktueel vir gemeentes om enige ander tyd te benut.