Hy het onder ons kom woon

Een van die boeiende aspekte van die Christelike kunstradisie is die wyse waarop Bybelse verhale en motiewe in die verskillende kulture van die mensdom vergestalt word. Met die verloop van tyd het die oorspronklike Palestynse gegewe voortdurend van “gestalte” verander en telkens die tyd en die milieu waarin ’n bepaalde kunswerk tot stand gekom het, weerspieël.

Vanweë die dominante rol wat die Westerse kerk in die Christendom gespeel het, het die uitbeelding van Bybelse gebeurtenisse deur die eeue veral ’n Westerse vorm aangeneem. Bybelse karakters is teen die agtergrond van ’n Westerse leefwêreld uitgebeeld asof hulle van Wes-Europese agtergrond was en in ’n Westerse milieu gefunksioneer het.

Die gevolg daarvan is dat die Christelike geloof in nie-Westerse kontekste as iets vreemds beleef is wat van buite af deur Westerse sendelinge ingevoer is. Hier­die soort blootstelling aan die Christendom het meestal gepaard gegaan met die verdringing van tra­disionele elemente van die inheemse kultuur, en het daartoe bygedra dat die evangelieboodskap in baie gevalle nooit behoorlik grondgevat het nie en soms selfs as koloniale bagasie beskou is waarvan daar ontslae geraak moes word.

In reaksie hierop het daar op verskeie plekke in die wêreld bewegings ontstaan waar kunstenaars opnuut ’n inheemse idioom en motiewe uit die tradisionele kultuur gebruik om aan die Bybelse gegewe gestalte te gee.

’n Voorbeeld van hierdie soort “inheemswording” is die werk van die Amerikaanse skilder, John Giuliani (1932 – ). Hy is aanvanklik as kunstenaar opgelei, maar het in sy twintigerjare van rigting verander om ’n Katolieke priester, en later ’n Benediktynse monnik, te word.

In 1990 het hy sy kunsloopbaan hervat, en nadat hy ’n intensiewe studie van die Ortodokse ikonografie onderneem het, begin om op ’n eiesoortige wyse mo­derne ikone te skilder waarin hy gebruik maak van inheemse Amerikaanse motiewe om Bybelse figure uit te beeld.

Hierdie benadering van Giuliani vind op treffende wyse uitdrukking in twee van sy ikone waarin hy ’n voorstelling gee van die Drie-eenheid. In albei gevalle word God die Vader, soos in talle Westerse kunswerke, uitgebeeld as ’n wyse ou man. In Giuliani se werk word die Vader heel spesifiek in verband gebring met die inheems-Amerikaanse figuur, Waken Tanka, met die tradisionele hooftooisel wat van vere gemaak is en uitdrukking gee aan sy status as heerser. Die hande van die Vader is na onder uitgestrek in ’n gebaar wat daarop dui dat Hy die Seun tot beskikking stel van die mensdom – of in die taal van Johannes 3 vers 16: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …”

Die Seun word in albei gevalle uitgebeeld as ’n Sioux-kryger in tradisionele krygsgewaad, maar son­der wapens en met sy hande na bo opgehef in ’n gebaar van selfopoffering. Voor op sy rykversierde krygskleed is ’n vierkleurige sirkel wat ’n in­heems-Amerikaanse simbool vir die heelal is. Hier funksioneer dit as ’n aanduiding van die kosmiese betekenis van Christus.

Die Heilige Gees word, soos in die Nuwe Testament, uitgebeeld as ’n voël wat met uitgestrekte vlerke op die Seun neerdaal. In plaas van ’n duif word daar hier egter gebruik gemaak van voëls wat ’n belangrike simboliese rol speel in die inheems-Amerikaanse oorlewerings, in die een geval ’n arend, en in die ander geval ’n valk.

Die onderlinge verbondenheid van die drie Persone van die Drie-eenheid vind uitdrukking in die feit dat hulle nie as drie losstaande figure uitgebeeld word nie, maar van bo én van onder as ’t ware in mekaar in­vloei. Rondom elkeen van die drie Persone se kop is daar ’n stralende ligkrans (“halo”) waarmee die Godheid van sowel die Vader, as die Seun en die Heilige Gees aangedui word.

Oor sy aansluiting by die voorstellingswêreld van die inheemse-Amerikaanse kultuur het Giuliani homself soos volg uitgelaat:
“Their understanding of the world of nature and of God, the emphasis on being caretakers rather than exploiters of the land – all that is wonderfully consonant with the best of Christian thought and tradition. In my work I try to celebrate a union of a common spiritual understanding, to show how a single mystery can be approached through diverse cultures.”

Oor die reaksie op sy werk sê hy die volgende:
“When the Lakota Sioux … most of whom had been evangelized by Jesuit missionaries, first saw themselves depicted in my works as saints, they were ecstatic. Many of them contacted me, weeping even, and said, we have never before seen ourselves depicted as Mary, as Jesus, the saints.” 

Op dié manier help ’n kunstenaar soos Giuliani ons om op ’n nuwe manier te verstaan dat die Woord mens geword en onder mense kom woon het. En dat ons die heerlikheid wat Hy as Seun, van die Vader ontvang het, kan sien in die lewe wat Hy hier op ons gewone aarde kom leef het.

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.