Wanneer is ons aan die kant van die verontregte?

Prop Hennie Pienaar skryf:

Daar is heelwat gemeentes in die NG Kerk wat gekant is teen die onreg wat geseëvier het tydens die kerk se buitengewone vergadering in 2016 wat die bevryden­de besluit aangaande die kerk se homoseksuele lidmate van die 2015 herroep het.

Daar is onder andere ’n facebook-blad geskep – “liefde is liefde is liefde” – wat as platform dien waar predikante en lidmate van die gemeentes hulle teenkanting kon verwoord en solidariteit met gay lidmate uitspreek.

As gay lidmaat is ek baie dankbaar vir die gebaar. Ek het gehoop dat dit ’n beweging is wat die geregtigheidsmomentum verder gaan aanvuur en met stoom vorentoe sou neem.

Ek is nie bewus dat dit gebeur nie. En ek het gewonder oor die vraag: Wanneer is ons aan die kant van die verontregte?

Is ons aan die kant van die verontregte wanneer ons ons uitspreek teen die onreg, of wanneer ons daadwerklik konstant aktief besig is om die onreg te stuit totdat geregtigheid herstel is?

Is ons aan die kant van die verontregte wanneer ons steeds in ons gemaksone verkeer, of wanneer ons ook die ongemak van die verontregte voel?

Is ons aan die kant van die verontregte omrede dit op papier staan, of wanneer ons so hard daarteen skreeu dat almal dit hoor?

Is ons aan die kant van die verontregte wanneer ons daaroor preek of wanneer ons mekaar mobiliseer tot sigbare aksie met die oog op verandering?

Is ons bereid om seer te kry ter wille van geregtigheid?