Giliomee sê te min oor die NG Kerk en apartheid

HISTORIKUS
DEUR HERMANN GILIOMEE
UITGEGEE DEUR TAFELBERG, 2017

RESENSIE DEUR FRITS GAUM


Hermann Giliomee is een van Suid-Afrika se belangrikste historici. Hy het ’n stuk of 18 historiese boeke geskryf – met sy grootste werk Die Afrikaners: ’n Biografie, wat meermale bekroon is.

In Historikus verweef Giliomee die verhaal van sy lewensverloop met dié van ’n land wat hom boei en besiel, ’n land waar die geskiedskrywing sentraal staan tot die hedendaagse politiek. Die Afrikaners (en Suid-Afrika) se “reis met apartheid” kom uiteraard skerp onder die soeklig. So ook die NG Kerk se betrokkenheid by die regverdiging en uitvoering van dié beleid. Dit is veral dááraan dat ek in hierdie resensie aandag wil gee.

Giliomee kom uit ’n geslag wat sterk verbonde was aan die Afrikaners én aan die NG Kerk. Sowel sy grootouers as sy ouers was meelewende lidmate. Hy self het sy kerklike betrokkenheid vroeër in ’n gesprek met Kerkbode as “passief” beskryf. Gilio­mee is om verskeie redes teleurgesteld in die NG Kerk – nie die minste nie oor dié kerk se destydse houding oor apartheid.

Hy vertel in Historikus dat kerk en katkisasie ’n verpligte deel van sy opvoeding was. “Behalwe vir die groot klem op die preke en die dogma van uit­verkorenheid – dit is iets wat ek nou nog nie verstaan nie – kan ek nie veel van my Christelike on­der­rig onthou nie. Min kerke het so ’n moeilike taak as dié van die NG Kerk gehad, wat apartheid met die Christendom se beklemtoning van die gelykheid van alle mense moes probeer versoen” (bl 22).

Giliomee wys tereg daarop dat die begrip “apartheid” in die NG Kerk ontstaan het. Ds JC du Plessis van Bethlehem het dié term in 1929 in ’n toespraak tydens ’n konferensie van die Vrystaatse NG Kerk oor sendingwerk onder swartmense gebruik. “Apartheid was dus in sy wese ’n produk van sowel Afrikaner-nasionalisme as die NG Kerk se benadering tot sending” (bl 216). Giliomee vertel dat prof TN Hanekom, later professor in kerkgeskiedenis op Stellenbosch, in private gesprekke sou gesê het: “In die geval van apartheid was dit nie wat die Nasiona­le Party aan die NG Kerk gedoen het nie, maar die NG Kerk aan die Nasionale Party.” Dit was ook Hanekom, tóé assistent-redakteur van Kerkbode, wat op 22 September 1948 in ’n hoofartikel geskryf het: “As kerk het ons (…) steeds doelbewus aange­stuur op die skeiding van hierdie twee volksgroepe (wit en swart). In hierdie opsig kan daar met reg gepraat word van apartheid as ’n kerklike be­leid.”

Giliomee skryf dat hy soms wonder hoe sy boek oor die Afri­­kaners sou gelyk het as hy dit ná sy boek oor Stellenbosch se bruinmense, Nog altyd hier ge­­wees: Die storie van ’n Stel­len­bos­se gemeenskap, geskryf het. Sy na­vorsing vir dié boek het hom in sekere opsigte tot ander insigte gebring. “Soos ander witmense het ek nooit daaraan gedink wat dit vir ’n bruinkind be­teken om te weet daar is geen spra­ke van gelyke geleenthede met ’n witkind nie. Ek het geen be­nul gehad hoe dit moes voel as jou ouerhuis ingevolge die Groepsgebiedewet ontruim moes word en jy na ’n plek met min­derwaardige geriewe en vreem­­de bure moes trek nie. Ek was onbewus van die leed wat ras­se­klassifikasie meegebring het as paartjies of familielede in ver­skillende ‘rasgroepe’ ingedeel is” (bl 226).

Maar terwyl Giliomee nie doekies omdraai dat die NG Kerk ’n groot rol in die onreg­ver­dige apartheidstelsel ge­speel het nie, maak hy heeltemal te min van dié kerk se rol in die afskeid van apartheid. Hy verwys wel na mense soos Bennie Keet, Ben Marais (wat hom getrou het) en Beyers Naudé, maar Johan Heyns se naam word nêrens genoem nie. En dit was juis Heyns wat, ook as moderator, geweldig baie binne die NG Kerk gedoen het om die kerk in sy/haar spore te laat omdraai. Giliomee rep ook niks oor die beleidstuk “Kerk en samelewing” (1986) nie, wat einste oor apartheid in Heyns se termyn as moderator ’n skeuring in die NG Kerk veroorsaak het.

Giliomee skryf wel dat “sonder die NP en sonder die elemente van die Afrikaner-volksbeweging – die koerante, die Broederbond, die NG Kerk en die georganiseerde Afrikaanse sakelewe – was daar geen moontlikheid vir Afrikaner-aanvaarding van ’n onderhandelde skikking nie” (bl 208). Maar dis ’n alte skramse verwysing na die NG Kerk se aandeel, terwyl die skrywer vroeër in sy boek uitspel hoe diep die kerk betrokke was by die inwerkingstelling van apartheid. Dié kerk was inderdaad ook diep betrokke by die beëindiging van apartheid in Suid-Afrika!

Die punt is – en ek dink Hermann Giliomee gee alte min krediet daarvoor – dat die NG Kerk, toe die kerk eers weggestap het van apartheid, dit doelbewus en sonder om om te kyk en te wil te­rugdraai, gedoen het. In die proses is groot offers gebring. Kerkskeuring. Verlies aan lidmate. En dalk was die sluipmoord op Johan Heyns een van die offers.

Maar afgesien van dié leemte in Historikus, is dit ’n uiters leesbare boek wat besondere lig werp op die belewenisse en waarnemings van ’n skerpsinnige en baie kundige “getuie van groot tye”, Hermann Giliomee. Vir iemand wat belangstel in die onlangse verhaal van ons wye en droewe – en dikwels wrede – land, is dit noodsaaklike leesstof.