As volledige mense

Gerrit Engelbrecht van die Strand skryf:

Daar het ná die Buitengewone Sinode van 2016 ’n skok deur dele van die kerk gegaan dat ’n kerk tot so iets in staat kan wees: dat die Christelike geloof na al die eeue nog steeds geweld kan pleeg, en dit teen medegelowi­ges; dat medegelowiges ontneem kan word van le­wens­vervulling voor die aangesig van God.

Vanweë godsdienstige en kulturele redes hou mense (selfs ook wetenskaplikes) soms teen alle ge­tuie­nis in vol met die gedagte dat ’n keuse betrokke is by seksuele oriëntasie. Baie gay gelowiges neem eenvoudig nie meer deel aan hierdie “ongeldige” en “onsinnige” gesprek nie.

Ná alles gesê is, is dit duidelik dat die pro-evange­lie-gesindes nie beskuldig kan word dat hulle nie erns maak met die boodskap en die gesag van die Skrif nie. Die reformasie was ’n terugkeer na die eenvoud van die Bybelse heilsboodskap. Die aanvaarding van gay ge­lowiges in selfdegeslag- verhoudings rus op die “naïewe, oer-Christelike” beginsels – wat deurskemer in ’n vers soos: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie” en daarby die opdrag: “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê”.

Die uitstaande kenmerk van God se kinders is dat God hulle liefhet, dat hulle in Christus deur genade volkome verlos en volkome geheilig is. Dat die menslik onmoontlike gebeur het dat hulle tot geloof gekom het, en dat Christus nou die ja en die amen, die begin en die einde van hulle geloof is.

Die vrugte van Christus se nuwe lewe, deur die Gees gewerk, is dan ook, met al die kruisdra, sigbaar in die lewens van gay gelowiges in selfdegeslagverhou­dings. Almal wat in Christus is, staan saam verstom, verwonderd voor God se onbegryplike genade. Daar is net een blywende maatstaf vir die geloofslewe: lief­de vir God wat sigbaar word in liefde vir die naaste.

Die NG Kerk het nou die geleentheid om werklik ’n effek in die wêreld te hê deur ’n veilige ruimte vir alle gelowiges te wees en die samelewing te begelei om gay mense as volledige mense te aanvaar en te respekteer.