’n Stortvloed hulp aan Suid-Kaap se rampgebiede

Grootskaalse hulp, wat finansies en noodvoorrade insluit, het van regoor die land vanuit gemeentes en die gemeenskap gekom na die verwoestende brande in die Suid-Kaap wat plekke soos Knysna, Sedge­field en Plettenbergbaai getref het.

Volgens ds Nioma Venter, PSD: Diaconia in Wes-Kaapland wat ook verantwoordelik is vir dié sinode se rampfondsbestuur, het die Wes-Kaapse rampfonds teen Kerkbode se spertyd sowat R390 875 finansiële donasies ontvang. Dit sluit fondse uit wat direk by gemeentes wat geraak is se rekeninge inbetaal is.

Fondse in die rampfonds kom vanuit die gemeenskap en organisasies sowel as gemeentes. Die Vrystaat­se Sinode het daarbenewens R1 000 000 bewillig en ge­meentes van so ver as Brits, Moreletapark en die Kru­gerwildtuin het noodbesendings gekoördineer. Die Diensgroep Diaconia van Wes-Kaapland het ook ’n verdere R125 000 bygedra.

“Elke dag word die geld wat in die rampfonds inbetaal word, oorbetaal aan die Ring van George wat dit nou in oorleg met die gemeentes sal verdeel,” sê Venter. Die Ring van George is ’n buurring van die Ring van Knysna waar brande verwoesting gesaai het. Venter verduidelik die reëling is met die Ring van George getref omdat hulle nie hulleself midde-in krisisbestuur bevind nie.

Fisiese noodvoorrade word ook by versamelpunte, soos onder andere die Shofar-kerk in George en in boere se pak- en koelstore, geberg en uitgesorteer. Vry­willigers het tot dusver volgens behoefte wat van­uit die gebiede ontvang is, noodvoorrade na veral Knys­na en Plettenbergbaai aangery.

Ds Pieter van Santen, voorsitter van die Ring van George, het gesê dat hulle net op een dag ’n astronomiese 25 ton nood­voorraad ontvang het. “Ons het die VGK en NG do­minees gevra om kundige persone van­uit hulle gemeente saam te bring met wie ons gaan koppe bymekaar sit oor effektiewe verspreiding van die nood­­voorraad na Knysna en Plet­­ten­bergbaai.”

In Knysna is die grootste gevaar verby, hoewel se­ke­re gebiede nog smeul. Volgens Venter neem die mu­ni­sipaliteit van Knysna ’n leidende rol in die krisis. “Om samedromming by die NG gemeente se kerksaal te voorkom word noodartikels by die betrokke wyke afgelaai.”

Volgens Charmaine Smith, predikantsvrou van die Suiderkruiswyk-gemeente in Plettenbergbaai, het hul­le aanvanklik mense vanuit Kranshoek, ’n Griekwa-nedersetting, waar brand gewoed het in die kerksaal gehuisves. Later het hulle fokus na die brandbestryders geskuif toe die brand bedaar het.

Smith vertel die brandweerstasie is reg oorkant hul­le kerk en daarom kon dit nie anders as om hulle te help nie. “Op die oomblik bestuur ek met die hulp van my huishulp Zelda Pluim, ons gemeentelede en die Noor­derkruiswyk-gemeente ’n versorgingsentrum vir die brandbestryders. Hulle kan in die pastorie stort en ons neem vir hulle drie etes per dag. Ook asmapom­pies, oogdruppels en samboksalf.”

Teen druktyd het daar nog brande by die plotte in Harkerville en by die Kransbos-bosboustasie gewoed, sê Smith. Venter sê die gemeente in Plettenbergbaai het besef hulle kan nie alles doen nie, maar hulle gaan op iets fokus en dit góéd doen.

“Die groot ramp het my laat besef rampbestuur is nie ons elkedagse besigheid nie, maar gemeentes kan doen wat hulle kan met hulle beperkte vermoëns en steeds ’n reuse-verskil maak.”