Die ekumeniese kerk

Die woord “ekumene” beteken eintlik “alle inwoners van die hele wêreld”.

Aanvanklik het die Grieke met die term na hulleself verwys: “Alle Grieke in die ganse wêreld”. In die Romeinse tyd is die betekenis uitgebrei na “almal in die ganse (bekende) wêreld”. Vandag gebruik die Christelike kerk die term om te verwys na “alle Christene in die hele wêreld”.

Die onderliggende oortuiging wat verklank word, is dat alle Christene met mekaar te doen het. Ons is verbonde aan mekaar. Die drie-enige God het met ons in verhouding getree. Hy verlos ons. Hy roep ons. Ons is sy liggaam.

Die versplintering van die liggaam van Christus is vir die Nuwe Testament ondenkbaar. Ook Augustinus het die idee van skeiding tussen gelowiges totaal on­aan­vaarbaar gevind.

In 1552 skryf Johannes Calvyn aan aartsbiskop Tho­mas Cranmer. Hy sê die liggaam van Christus “lê ­bloeiend” en hy (Calvyn) is gewillig om “met plesier 10 ose­ane oor te steek” om ’n konferensie by te woon, soos deur Cranmer beplan, ter wille van die eenheid van die kerk. “Dit moet gereken word as een van die grootste eu­wels van ons era dat die kerke so geskei is van mekaar,” skryf Calvyn. Calvyn argumenteer dat sake soos liturgieë en kerkordes tot die media res behoort wat vir groot verdraagsaamheid tussen Christene vra.

Dit is een van die belangrikste verpligtinge van die Algemene Sinode om te verseker dat die NG Kerk aktief deel is van die liggaam van Christus in die wêreld. Ons behoort daarom aan talle ekumeniese liggame waaronder die Wêreldraad van Kerke, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (wat begin Julie in Leipzig vergader), en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke.

Ons het ook bilaterale verhoudings met talle kerke.

Gedurende die jare van politieke en kerklike isolasie het ons onsself wys gemaak dat ons op ons eie kan regkom. Maar die skade aan ons getuienis was omvattend. Die evangelie van Christus eis immers ’n ander benadering.

Terwyl daar sommiges is wat dink jy kan die ware kerk vind deur al meer af te stig, al meer isolerend op te tree en al meer eenstemmig te wees, leer die Bybel en tradisie dat hoe meer jy afskei, hoe minder vertoon jy die beeld van Christus. Ware kerkwees en eenheid het dus alles met mekaar te doen.

Om saam ingeneem te word in die beweging van God in die wêreld, laat diversiteit vervaag. Om saam die koninkryk van God in ontvangs te neem waar dit inbreek in ’n stukkende wêreld, is die heerlike roeping van die kerk.

Wêreldwyd is daar nou groot beweging in die verhoudings tussen kerke. Kleiner verskille word onder­ge­skik gestel aan die groter belang van die koninkryk. In Europa herdenk die Katolieke Kerk byvoorbeeld saam met die protestantse kerke die reformasie en word daar gedink oor die implikasies daarvan vir die lewe en getuienis van die liggaam van Christus.

Ook die NG Kerk se kerklike verhoudings het die af­gelope tyd baie ontwikkel. Ons terugkeer na die Wê­reld­raad van Kerke het vir ons nuwe geleenthede ontsluit. In die plaaslike ekumeniese omgewing is ons ont­vang en gelukgewens soos die verlore seun wat te­rug is by die huis. En ons voel weer tuis en gemaklik met die wysheid van soveel welmenende mede-gelo­wi­ges tot ons beskikking.

Die Algemene Sinodes van die VG en NG Kerk het nou ’n tussenorde aanvaar wat dit moontlik maak vir kerk­like vergaderings om te verenig: gemeentes, ringe en sinodes. Ons onlangse gesprekke was hartlik, indringend en konstruktief. Die 17 voorsitters van die twee kerke se sinodes vergader in Augustus om die uit­voering van die twee sinodes se besluit verder te neem.

Ons word vanjaar hopelik ook lid van die Church Unification Commission (CUC). Die CUC bestaan uit die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa, Anglican Church of Southern Africa, Methodist Church of Southern Africa en die United Congregational Church of Southern Africa. Waar kerke van hier­die groep nie alleen gemeentes tot stand kan bring of onderhou nie, word daar saamgewerk om kerk te wees. Dit bied nou skielik opwindende geleenthede vir ons op baie plekke in SA.

Ons het ook ’n gesprek met die Hervormde Kerk in vooruitsig. Ons volle moderature gaan in Augustus vir ’n dag saam in afsondering om te dink oor die pad vorentoe. Die Uniting Presbyterian Church of Southern Africa (UPCSA) het ons ook genooi vir gesprekke oor groter eenheid. Hierdie is maar enkele van die inisiatiewe waaraan die Moderamen tans werk. Ons glo dat die eenheid van die kerk ’n wesenlike deel van ons opgaaf is.

Die uitdaging is nou om in alle plaaslike kontekste die eenheid van die kerk te bevorder. Ek het in die Pinkstertyd diep onder die indruk gekom van die wyse waarop die Heilige Gees mensgemaakte grense ignoreer en die beweging van God na die onwaarskynlikste plekke neem. Hy gee verbeelding aan die kerk.

My gebed is dat die Gees aan elke gemeente en ring en sinode die verbeelding sal gee om saam met ander gelowiges van ander denominasies in elke gemeenskap te getuig van die veranderende krag van die liefde van Jesus. Dit is nou die tyd. Ons land is reg daarvoor. Die kerk se getuieniskrag sal nou lê in die nuwe verhoudings waarin ons drome droom en gesigte sien van God se inbrekende koninkryk in ons wêreld.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.