Naasteliefde in ’n tyd van oordeel

Kleintyd het ons kategese-onderwyser elke klas begin met: Was jy vandag by die kerk? En is jy by die kategese? Twee ja’s op ’n gereelde grond­slag het gemaak dat jy op die korttermyn nie skaam gevoel het voor die ander kinders nie; op die langtermyn is jy beloon met ’n goue seël aan die einde van die jaar. Vir lank was dit my kerkbelewenis.

Kerk het vir my verander die eerste keer toe ek ds Cassie Carstens hoor preek het. Hy was vriendelik, snaaks, gaaf en kwesbaar. Ons het lekker gesing. Die kerk met ’n warm hart verlaat. En altyd iets gehad om oor na te dink.

Geloof het vir my verander tydens my belydenisjaar by ds Cassie. Hier het ek besef dit gaan nie oor die twee ja’s by elke klas nie. Ook nie of jy teksverse kan aanhaal nie. En of jy kategismus en leerreëls op jou vingerpunte ken nie. Nee, geloof het gegaan oor liefde. Vir ander, vir jouself, vir God. Naasteliefde.

Sy voorbeeld van lewe – van gee en omgee – het my geïnspireer. Maar hy was ook ’n beginselvaste man. Reg en verkeerd het saak gemaak vir hom. So, toe hy in 2004 by die Algemene Sinode standpunt in­neem oor gay lidmate, het ek geluister: ’n Regverdige man wat liefde lewe wat sy hart kon oopmaak vir gay lidmate. En ook vir sy eie gay seun. Dit was geloof in aksie.

Ons kan kies hoe ons ons lewe wil lei. Vandag weet ek daardie twee ja’s by ’n kategeseklas beteken niks sonder liefde nie; dat daardie seël geen waarde inhou as my oordeel ander seermaak nie.

Dit is gelaaide woorde. Maar hoe langer ons, die dood­gewone lidmate, stilbly en menswees oorlaat aan kerkleiers, hoe meer ontneem ons kwesbares van hul mens­waardigheid. Ek wil nie my geloof lewe ten koste van iemand anders se bestaansreg nie.

Ek lees van tieners wat selfmoord pleeg oor hulle worsteling met hulle seksualiteit. Ek hoor van ouers wat hul kinders uit die huis verban omdat ouers gelei is deur liefdelose predikers. En ek sien hoe ’n kerkleier skryf van ’n “geweldige stryd” en ’n “wonderlike oorwinning” terwyl gay mense net verder vervreem word.

Ek kies naasteliefde. Maak nie saak hoe daardie naaste lyk, klink, glo of liefhet nie. Oordeel het nie plek in die hart van iemand wat daarna streef nie. Dit het ek by ds Cassie geleer.

Gielie Hoffmann is ’n leierskapskonsultant en skrywer van Pretoria en ’n lidmaat van die NG gemeente Wierdapark-Suid.