By Hlokomela wen hulle die stryd teen MIV

In groot goen en rooi en blou letters staan dit op ’n wit muur geverf: “Farm workers care for each ­other.”

Dit is die leuse van Hlokomela, ’n nie-regeringsorganisasie in Hoedspruit wat MIV en vigs bestry. Maar as ’n mens mooi daaroor dink, is dit ook ’n praktiese uitlewing van Jesus se woorde in Johannes 13:34: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê.”

Die storie agter Hlokomela begin in die 1990’s toe Christine du Preez en haar man Laeveld toe gekom het. Hy het ’n mangoboedery begin. Sy is ’n verpleegkundige en het by die Departement van Gesondheid gewerk. In dié hoedanigheid het sy verskeie klinieke in die omgewing begin.

Maar soggens voor werk was daar eers ’n liefdes­diens. Sy het primêre gesondheidsorg aan plaaswer­kers gelewer. Later het ander plase haar gevra om hulle ook te help. In 2002 het sy bedank by die staat om haar heeltyds aan die gesondheid van plaaswerkers te wy.

’n Vrou stap verby ’n muur waarop Hlokomela se leuse in groot helder letters geverf is.

Sy het al in 1997 begin boek hou, vertel Christine. Sy het begin agterkom dat plaaswerkers wat siek was nie gesond word nie. Hulle gaan dood. Geleidelik het hulle bewus geword daarvan dat dit MIV is. “Dit was ’n moedelose gevoel,” vertel sy.

In ’n stadium het die International Organisation for Migration haar betrek by navorsing oor kondoomgebruik. Later het hulle gesê hulle sal haar werk finansier as sy ’n organisasie stig. Dis hoe Hlokomela, ofte wel die Hoedspruit Training Trust, tot stand gekom het.

Saam met haar kollega, Antoinette Ngwenya, het hulle op die plase begin om bewusmaking te doen. In die proses het hulle vrywilligers onder die plaaswer­kers gekry, vir hulle basiese opleiding gegee, en nou help dié vrywilligers om na hulle kollegas om te sien. Aanvanklik was daar 18 sulke vrywilligers. Nou is daar al 95, vertel Christine.

Op ’n punt het hulle besef hulle gaan nie die stryd wen nie. Daarom het hulle gaan aanklop by die or­ga­ni­sasie Right to Care wat in 2007 R100 000 be­skik­baar gestel het sodat hulle ’n kliniek kon inrig. Toe het hulle ook begin om antiretrovirale middels te gee vir mense met MIV.

Drie jaar later het die staat by hulle kom kers opsteek oor die toediening van antiretrovirale middels en in 2014 is ’n ooreenkoms bereik waardeur die staat twee dokters en ’n verpleegkundige se salarisse by die kliniek betaal.

Deur dit alles het die voorkoms van MIV afgekom van 30% in 2008 tot tussen 9 en 18%. Nou is die ironie dat hulle finansiering in die gedrang is omdat die MIV-koers so laag is. Boonop bly die men­se wat MIV+ is dees­­dae gesond.

Intussen is daar al­ler­lei ander maniere waar­op hulle by die gemeenskap betrokke geraak het. Daar is ses of sewe creches. Daar is ’n projek wat na bejaardes omsien. Sy is betrokke by sekswerkers.

“Die liewe Vader bring vir ’n mens al dié goed,” merk sy op.

Oor die rol wat haar geloof speel, sê Christine sy ervaar die Heilige Gees baie sterk. Dis haar behoud.

En sy raak betrokke by mense, want haar gewete kla haar aan. “Dit is iets hier binne my wat ek nie kan beskryf nie,” sê sy.

Haar predikant, dr Pieter Dorey van die NG gemeente op Hoedspruit, sê sy is ’n voorbeeld van ’n ge­lo­wige wat ’n vaardigheid het, vir wie die Here iets op die hart gelê het en wat die geleenthede aangryp.

In die proses maak Christine du Preez en Hlokomela ’n geweldige verskil in duisende mense se lewe.