Die tendens is meer positief

Tydens ons onlangse padberade in die Oos-Kaap het ons die voorreg gehad om na stories te luister uit feitlik elke gemeente in die si­no­dale gebied. Deur na die stories te luister wou ons hoor waar God besig is om te werk.

Die mees uitstaande tendens wat waargeneem is, is dat gemeentes oor die algemeen meer positief is oor waar ons is en waarheen die Here met ons op pad is. Na die afgelope paar jaar se debatte oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde en die hele kwessie rondom die besluite rakende selfdegeslag­ver­houdings, lyk dit of gemeentes besluit het dat dit tyd is om weer ernstig aandag te gee aan die missio Dei, en werklik getuies van die opgestane Here wil wees.

Missionale kerkwees lê baie hoog op die priori­teitslys van gemeentes. Daar is ’n besef dat die era waar­in die NG Kerk vanuit ’n magsposisie sy sosiale roeping kon uitleef, finaal verby is. Die kerk begin weer om in dienskneggestalte ’n verskil te maak daar waar ons is. Talle gemeentes vertel van sopkom­bui­se, huisvesting van haweloses, omgee vir die rand­figure, dienslewering oor taal- en kultuurgren­se heen, uitreiking na die werksplek en skole om die “kerk” by die mense uit te bring.

In die stedelike gemeentes word nuwe vorme van kerkwees ontdek en ekumeniese uitreike en aksies begin al meer die norm word. Gemeentes raak al meer bewus van ons roeping om ’n vertoonvenster van God se liefde te wees.

In die platteland is daar aansienlik meer hoop as ’n jaar of wat gelede. Ten spyte van ’n knellende droogte die afgelope tyd, is ons lidmate hoopvol. Onderlinge versorging en ondersteuning het gemaak dat gelowiges oor kerk- en kultuurgrense mekaar se hande vat en saam werk met geloof, hoop en liefde. Dit is ook opvallend dat al hoe meer gemeen­tes in die platteland besig is om bokant taal en kultuur ’n hegte geloofsgemeenskap te vorm wat werklik ’n verskil in die samelewing maak.

Ons het stories gehoor van ’n Etiopiër, van ’n ge­sin uit Zambië, ander uit Nigerië en Zimbabwe, wat iewers ’n tuiste in ’n NG gemeente gevind het. In ’n hele paar gemeentes het ons gehoor van motorwagte wat deel geword het van die geloofsgemeenskap. Uit die Karoo het ons gehoor van gemeenskappe wat op die rand van wanhoop gestaan het, maar waar daar nou nuwe hoop en lewe is omdat mense oor taal- en kultuurgrense mekaar as mede-mense en mede-Christene ontdek het en saam ’n ver­skil maak in die gemeenskap.

Ons het gehoor dat in baie gemeentes die fokus van die “preek” as die middelpunt van ons geloofsbelewing, verskuif na ’n “belewing van ’n geloofsgemeenskap met God, met mekaar en met die wêreld”.

Een van die mooiste stories uit Oos-Londen is waar iemand vertel het dat hy in ’n vliegtuig was op pad êrens heen. Hy vra toe die vreemdeling wat langs hom sit, watse werk hy doen.

Die persoon antwoord hom: “Ek is ’n Christen, en om my roeping te finansier, is ek ’n argitek.”

Ek glo dat die NG Kerk regtig besig is om ge­lo­wiges te help om hulle roeping uit te leef, sodat die ko­ninkryk van God op alle terreine van die sa­me­lewing sigbaar sal kan word.

Ds Jasper Louw is predikant van die NG gemeente Loerie in Jeffreysbaai.