Kerk en hof: lidmate se kanse op sukses?

Wat is die kanse op sukses van die groep lidmate wat die NG Kerk nou hof toe neem om besluite van die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 te laat nietig verklaar?

Prof Helena van Coller van die fakulteit regsgeleerdheid aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad sê in ’n skrywe aan Kerkbode as die regsaksie gegrond is op prosedurele gronde, het hulle volgens haar ’n “baie sterk saak”.

As dit egter gevoer word op grond van basiese regte, gaan dit ’n “baie moeiliker geveg wees,” meen sy.

Vier van die oorspronklike 11 lidmate wat gedreig het met regstappe, het middel Junie hofstukke op die kerk en van sy verteenwoordigers bedien waarin hulle aandui dat hulle die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 se besluite rakende selfdegeslagverhoudinge ter syde wil laat stel. Dié vier is proponente Laurie Gaum, Michelle Boonzaaier, Judith Kotzé en dr Frits Gaum.

Die kerk het intussen aangedui dat hulle die saak gaan teenstaan. Die kerk moet nou ’n antwoord op die vier se hofstukke voorberei. Daarna kan die verskillende partye verder met mekaar korrespondeer totdat finale hofstukke ingedien word.

Na verwagting sal die saak nie voor volgende jaar in die hof afgehandel kan word nie.

Van Coller se volledige skrywe oor die saak, volg hieronder:


Helena van Coller
Die reg op godsdiensvryheid is van groot belang vir godsdienstige pluralisme in Suid-Afrika, vir die uiteenlopende religieuse gemeenskappe en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan. Groot verdeeldheid heers binne kerkgeledere oor die kwessie van die verbintenis tussen persone van dieselfde geslag en oor die aanstel van homoseksuele predikante. Hierdie onsekerheid veroorsaak nie net groot verwarring binne en buite kerklike kringe nie, maar gee ook aanleiding tot ongelukkigheid en konflik, wat uiteindelik uiting vind in regsdispute, soos blyk uit die onlangse regsaksie deur 11 lidmate teen die NG Kerk se besluit oor selfdegeslag-verbintenisse.

Een van die redes wat Laurie Gaum in sy beëdigde verklaring genoem het en in ’n onlangse berig in die Volksblad aangehaal is (“Gay-saak: NG Kerk bestudeer dokumente van 11 lidmate”, Volksblad, Dinsdag 20 Junie 2017) vir die ongrondwetlike optrede van die NG Kerk, sluit onder andere die diskriminasie en skending van die reg op vryheid van assosiasie van die gay lidmate en aantasting van hulle waardigheid in. In ’n vroeëre opmerking deur Gaum na aanleiding van ’n artikel wat gepubliseer is op Litnet oor hierdie onderwerp, vra hy die vraag of daar ʼn “huiwering” by die howe is “om die volle trefkrag van die reg op seksuele oriëntering toe te pas” en of die sosiale orde nog nie die “werklike betekenis of impak van die mensereg verstaan nie”?

Wat belangrik is hier en ook ten aansien van die huidige regsaksie en kennisgewing van mosie wat aan die NG kerk beteken is, is dat die “huiwering” by die howe nie net in die algemeen  ten opsigte van die reg op seksuele oriëntering is nie, maar spesifiek ook ten aansien van die interne verhoudinge en werksaamhede van geloofsinstellings. Ek dink daar bestaan geen twyfel dat die Grondwet duidelik is oor die beskerming van die reg op seksuele oriëntering en dat dit in die breë samelewing beskerm en afgedwing moet word nie. Wat die “huiwering” veroorsaak is dat die regte in die Grondwet nie absoluut is nie en dat dit afgeweeg moet word teenoor ’n reg soos die reg op godsdiensvryheid en selfs die reg op vryheid van assosiasie. Twee regte wat in ’n pluralistiese samelewing net so belangrik is. Ons het ’n lang geskiedenis van hofuitsprake en dit is te verstane dat ʼn hof “huiwerig” is om hierdie reg in hierdie baie spesifieke konteks toe te pas, gesien die geskiedenis en ontwikkeling van die reg op godsdiensvryheid en ook dit wat op die oomblik in ander jurisdiksies, soos Amerika, Nederland en Duitsland gebeur. ’n Duidelike begrip van die Handves is nie die probleem nie, maar die botsing, afweeg, en afdwing van die regte in die Handves is nie bloot ’n meganiese oefening nie en is dikwels een van die moeilikste take van ’n hof.

Indien die 11 lidmate se regsaksie gegrond is op prosedurele gronde, het hulle myns insiens ’n baie sterk saak. Twee aspekte is hier van belang, naamlik die korrekte interpretasie van die Kerkorde en vir die hof om te bepaal of die kerk sy eie reëls en regulasies, veral ten aansien van die appèlprosedures gevolg het. Daar is duidelike teenstrydighede in die Kerkorde wat na vore getree het gedurende hierdie dispuut, veral ten aansien van artikel 23.1 wat bepaal dat “die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigde kommissies is bindend, maar daaroor kan in appèl na ’n meerdere vergadering of die meerdere vergadering se gevolmagtigde kommissie gegaan word”. Aangesien die Algemene Sinode die hoogste vergadering is, impliseer dit dat ’n verdere appèl nie moontlik is nie. Verdere teenstrydighede en prosedurele kwessies, soos die status van ’n appèl en of dit wel ʼn besluit opskort, is ook geopper, asook die interpretasie van verskeie ander bepalings in die Kerkorde.

Daar word dikwels na die statuut van ’n organisasie verwys as ’n konstitusie of reglement en ten opsigte van kerke, die bepaalde Kerkorde. ’n Statuut word beskou as die fundamentele organisasiereëls van die individuele regspersoon, ongeag die benaming wat elke regspersoon daaraan toevoeg. Die Kerkorde speel dus ’n baie belangrike rol om die howe by te staan deur die grense van hersiening te bepaal wanneer die geldigheid van ʼn besluit aangeveg word. Dit is ’n fundamentele beginsel dat die regsvormende organe van kerke en organisasies, hulself hou aan die reg soos neergelê in hulle statute en reglemente. Ons regspraak bevat verskeie voorbeelde daarvan wat bevestig dat ʼn burgerlike hof wel die bevoegdheid het om ʼn Kerkorde te vertolk en selfs ooreenkomstig sy vertolking daarvan op te tree. ’n Hof sal ook inmeng waar die huishoudelike tribunaal (die Algemene Sinode in hierdie geval) van die betrokke organisasie sy eie reëls en regulasies of die basiese beginsels van billikheid verontagsaam het. So gesien, het die aansoek van die 11 lidmate om die besluit oor selfdegeslag-verbintenisse onwettig te verklaar, heelwat meriete en kanse op sukses is groot.

Die aansoek bevat egter ook heelwat ander gronde, soos blyk uit die verklaring van Laurie Gaum, wat hulle aansoek kan bemoeilik. Indien die aansoek ook gebaseer is op diskriminasie en die aantasting van hulle reg op vryheid van assosiasie, gaan dit ʼn baie moeiliker geveg wees. Artikel 9 van die Grondwet maak dit duidelik dat geen persoon (dit sluit ’n kerk of organisasie in) regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op een of meer gronde mag diskrimineer nie. Dit sluit beide seksuele georiënteerdheid sowel as godsdiens in. Hier raak die situasie egter meer gekompliseerd aangesien daar ten aansien van godsdienstige organisasies of kerke ook vergelykende fundamentele regte ter sprake kom, naamlik die reg op vryheid van assosiasie en die reg op vryheid van godsdiens waarop die kerk self geregtig is. Die toets is dus nie of die reg billik beperk is nie, maar vereis ’n belange-afweging tussen die verskillende fundamentele regte. Wat betref kerke en geloofsinstellings is die institusionele reg op godsdiensvryheid en die reg op vryheid van assosiasie twee belangrike gemeenskapsregte wat dikwels in konflik staan met die fundamentele regte van gelykheid, menswaardigheid en niediskriminasie.

Ecclesia de Lange van die Metodistekerk in Suid-Afrika het die nuus gehaal toe sy in 2009 deur die Metodistekerk uit haar pos as predikant van die Metodistegemeentes Brackenfell en Windsorpark in Kaapstad geskors is. De Lange is in 2006 as predikant in die Metodistekerk georden, waarna sy in 2009 aangekondig het dat sy beoog om met haar lewensmaat in die huwelik te tree. Sy is deur twee dissiplinêre komitees skuldig bevind aan die nie-nakoming van die reëls, regulasies en praktyke van die kerk en is uit haar pos geskors. Sy was onsuksesvol in beide die Wes-Kaapse Hoë Hof en die Hoogste Hof van Appèl, wat aangetoon het dat die nodige respek vir godsdiensvryheid beteken dat die hof nie ʼn uitspraak moet maak oor godsdienstige doktrines nie. In ’n instemmende uitspraak deur regter van der Westhuizen in die Konstitusionele Hof in Oktober 2015, ondersteun hy die beslissing in die Hoogste Hof van Appèl.

Waar laat dit die kerk ten aansien van homoseksualiteit?

Daar is diegene wat van mening is dat ’n homoseksuele verhouding verkeerd is in die oë van die Here en daar is die wat enige gays sonder voorbehoud verwelkom. Beide groepe staan vas in hulle siening ten aansien van gays. Op praktiese vlak, ten spyte van die feit dat NG dominees nie gay huwelike mag bevestig nie, is daar wel dominees wat gay paartjies trou en bloot die wetlike formaliteite oorlaat aan iemand wat dit wel mag voltrek en wat ook geensins gekant daarteen is om sulke huwelike te voltrek nie. Dieselfde geld ten aansien van die doop van babas van gay pare. In sommige gemeentes word dit volstrek geweier en in sommige gemeentes word dit sonder voorbehoud gedoen. Dieselfde kan gesê word vir ander denominasies en byvoorbeeld die rol van vroue in verskillende gemeentes binne die Gereformeerde Kerk. Ten spyte van my en jou siening –  mag daar dalk gemeentes wees wat vanweë hulle besondere behoeftes, konteks, geskiedenis en samestelling die spesifieke behoefte het om gay verbintenisse te voltrek of die behoefte het aan of ruimte het vir ’n gay predikant in ’n spesifieke bedieningsveld, ongeag of so ’n predikant self in ’n selfdegeslagverbintenis is of nie.

Die hof het in die bekende saak van Fourie as’t ware ’n “reg om anders te wees” erken en bepaal dat ons samelewing een is wat gegrond is op die beginsels van aanvaarding en wedersydse respek. Die toets vir aanvaarding is nie hoe ons ruimte skep vir mense en optredes waarmee ons gemaklik is nie, maar hoe ons die uitdrukking van wat anders is, akkommodeer. Hierdie reg sny egter beide kante toe, soos dit ook duidelik na vore gekom het in van die voorbeelde waarna verwys is. Individue het die reg om anders te wees en in ’n diverse en pluralistiese samelewing moet ook kerke en godsdienstige organisasies hierdie “andersheid” erken, respekteer en waar moontlik akkommodeer. Die reg op godsdiensvryheid en die reg op vryheid van assosiasie gee egter aan kerke en godsdienstige organisasies eweneens die reg om anders te wees en individue moet ook die reg van kerke om te glo soos wat hulle doen te erken, te respekteer en te akkommodeer. ’n Balans sal gehandhaaf moet word tussen die respek en beskerming van godsdienstige opvattings en praktyke aan die een kant, en die beskerming van die menswaardigheid van alle mense aan die ander kant.

– Prof Helena van Coller is verbonde aan die fakulteit regsgeleerdheid van die Rhodes-universiteit in Grahamstad.