Ons eer en God se Gees

Pas het ons as kerk Pinkster gevier, die seisoen in die kerkjaar waarin ons fokus op die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag.

Die boodskap dat God sy Gees aan mense gee, is egter ’n baie ou boodskap waarvan die Ou-Testamentiese geskrifte reeds getuig. Numeri 11:24-30 is een so ’n voorbeeld. Indien ons dié teks lees in die lig van die destydse waarde van beperkte goedere, maak dit nóg ’n betekenismoontlikheid oop.

Uit sosio-kulturele en antropologiese studies blyk dit dat die mense van Bybelse tye onder meer geglo het dat alles in God se skepping slegs in beperkte maat beskikbaar is. Dit het alles ingesluit, onder meer grond, water, rykdom, genade – en ook God se Gees.

Dit wat jy en jou groep van die Here ontvang het, moes met jaloersheid gehandhaaf word. Om iets daarvan te verloor het tot gevolg gehad dat jy en jou groep eer verloor en dan is jy/julle tot ’n skande gere­ken. Dit is soms selfs gesien as teken dat die Here teen jou gedraai het.

In Numeri 11:27-28 lees ons dat Josua ontsteld is oor twee manne wat nie teenwoordig was nie, maar tog van die Gees van die Here ontvang het én dat hulle geprofeteer het. Teen die agtergrond van die waarde van beperkte goedere kan ons Josua se ontsteltenis verstaan.

Indien die manne van die Gees wat op Moses was ontvang het, dan het Moses nou minder Gees. Moses, die groot profeet, verloor dus eer en dit kan hom tot skan­de gereken word.

Moses is die profeet van die Here by uitnemendheid, maar nou profeteer hierdie twee manne. Moses verloor dus in die oë van Josua nog meer eer. Die twee manne ontvang van die Gees wat Moses toekom en hulle doen eintlik wat Moses geroep is om te doen.

Josua vra Moses om onmiddellik op te tree. Hy moet sy eer beskerm deur die manne stil te maak (vers 28). Josua handel binne die waardes van destyds. Moses is die leier en as leier het hy eer en verantwoordelik­heid. Moses se eer word aangetas en hy het die Godge­ge­we verantwoordelikheid om sy eer te handhaaf.

Moses sien egter verder as sy eie eer. Moses begryp dat die eer die Here toekom en dat dit om God se eer gaan, nie om syne nie. Teen die kultuur van sy tyd in, kies Moses om nie sy eer te beskerm nie, maar om Josua te leer om die Een oor wie se eer dit werklik gaan, raak te sien (vers 28-29).

Die Here se eer word duideliker hoe meer mense onder leiding van sy Gees as profete optree – dit is, optree as mense wat God se wil vir hulle tyd interpre­teer en uitleef.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeen­te Riviera-Jakaranda.