Dis bloeiseltyd in Japan se kerk

In April vanjaar het ’n groep jong NG predikante die Reformed Church in Japan besoek. Hieronder is ’n uittreksel uit die getuienis van DS MIAS VAN JAARSVELD van Bethlehem-Wes oor die besoek:


Elke jaar, vir omtrent twee weke, ondervind die Japannese landskap ’n radikale verandering.  Aprilmaande, lentetyd, is kersiebloeiseltyd.  Oral sien jy ligpienk kersiebloeisels. ‘Sakuras,’ soos dit in Japanees bekend staan.  Dit lyk soos ligte spookasem op bruin stamme, soos wolkies wat bo-op die takke gebalanseer word – hemel op aarde! 

Tydens ons besoek het ek en twee ander jong predikante een oggend ontbyt gaan eet by ’n dosent by Kochi Theological Seminary, se vrou. Haar naam is Kiyoko. 

Na ete het ons vir Kiyoko gevra: “Hoe het jy tot be­ke­ring gekom?” Met haar woorde neem sy ons op ’n gees­telike reis van ’n dogtertjie wat in haar wese altyd ’n honger gehad het na iets meer. Toe Kiyoko Jesus ont­dek en die evangelie gesnap het, was dit asof die honger ge­stil en haar dors geles is. Jesus het bevrediging gebring, en daar was rus in haar siel wat lewenslank soe­kend was.

Na ’n lang, heilige stilte sê sy dat daar nie eintlik veel mense is met wie sy hierdie verhaal gedeel het nie, en dat sy bevoorreg voel dat drie dominees in haar storie belangstel. Ons kon sien dat die trane vlak sit, maar dit was nie trane van hartseer nie! Dit was van daardie soort trane wat iemand kry as hulle wonderlike nuus ontvang het en dit graag wil deel. Dit was trane van ver­ligting. Ons besef dat sy ’n stukkie van haar siel met ons gedeel het.

Ek het vir Kiyoko ’n ge­bed gedoen – iets wat sy baie waardeer het, en rond­om ’n eetkamertafel in ’n vreemde land, was die lief­de van God, wat mense uit verskillende lan­de, tale, rasse en kulture tot ’n nu­we eenheid kan saambind, tas­baar.

Ons kon sien dat Jesus in Kiyoko se lewe gedoen het wat die kersiebloeisels jaarliks doen aan Japan se landskap. Haar hele lewe is vir altyd verander, en die mooi daarvan het ons eerstehands gesien en beleef deur haar getuienis.

Dit is asof die kerk in Japan vol sulke verhale is.  Mense woon in ’n land waar minder as 1% van die be­vol­king Christene is, maar dié wat die Here ontmoet het, het ’n skat ontdek wat hul lewe inkleur en hul ge­moedere lig. Hulle lewe kry nuwe sin en hul daag­lik­se bestaan is nie tevergeefs nie. Die liefde van die Here “blom” in hulle lewe, en ’n mens kom gou agter dat hulle anders is.  

In my tyd in Japan het iets in my binneste ook begin blom – dit is asof daar in my ook ’n nuwe seisoen aan­gebreek het en dat die landskap van my lewe ook verfraai is. In die kerk in Japan is ek opnuut herinner en gewys wat dit beteken om “kerk” te wees. Toegewyd aan die Here en aan mekaar. Gasvry teenoor vreemdelinge. Onbaatsugtige liefde teenoor jou naas­tes. Kin­der­vriendelik. Eenvoudig. Nederig. Opreg.