Die gevaar van The Shack

Dr Chris van Wyk van Port Elizabeth skryf:

Die gevaar van die boek van William Young, The Shack, is dat dit ’n prentjie van God teken wat heeltemal in stryd is met die Bybelse beeld van God. As die Here die moeite gedoen het om in die eerste drie gebooie van die Dekaloog te waarsku teen die effek wat ander prentjies van Hom op ’n mens se verhouding met Hom kan hê, moet ’n mens regtig versigtig wees waaraan jy jou blootstel. 

Ek kan onthou dat die boek by my ’n nostalgie geskep het na ’n soortgelyke brief. Ek het ook gehoop dat ek uitgenooi word na ’n multidimensionele kontak met God in ’n hut in die berge. Dat ek ook Jesus sal sien omdraai na my op die water en lag omdat ek dink die water is nat: “What did you think?!” 

Dit is egter ’n vals prentjie wat ’n vals verwagting van God skep. Wat my egter diep ontstel, is dat Young intussen ’n boek geskryf het oor sy geloof en dat dit blyk dat hy heeltemal van die wa afval in terme van die ortodokse verstaan van God. Hy dink almal sal gered word, dat die kruis van Jesus nie nodig was nie, dat daar nie regtig ’n hel is nie, ensomeer. Lees meer in hierdie ontleding daarvan: https://www.challies.com/book-reviews/what-does-the-shack-really-teach-read-lies-we-believe-about-god. 

Young glo ’n ander evangelie as ons, en soos Paulus aan die Galasiërs skrywe: Daar is geen ander evangelie nie! Jy kan die boek lees of die fliek kyk om jouself in te lig, maar jy moet besef Young werk nie met ’n Bybelse perspektief op God nie en dat hy glad nie soos ons glo nie. Jy sal jouself moet staal teen die onbewuste verwag­tings wat dit by jou gaan oproep. God duld nie valse prentjies van Hom nie.