NGK deel van dieper eenheid

Die ondertekening van die Wittenberg-ver­kla­ring op 5 Julie 2017 was die hoogtepunt van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) se Algemene Vergadering. Dit is ’n wonderwerk dat Gereformeerdes en Kato­lie­ke mekaar kon vind oor een van die belangrikste leerstellings, naamlik dat ’n mens slegs deur geloof en Christus se genade gered kan word.

Die tema van die byeenkoms in die jaar waarin die Reformasie 500 jaar gelede herdenk word, was “Le­wende God, vernuwe en verander ons.” Die Al­ge­mene Vergadering het iets van die voortdurende ver­nuwing van die kerk prakties uitgeleef deur daarop aan te dring dat ’n groot deel van die afge­vaardigdes uit vroue en jongmense moet bestaan.

’n Besluitnemingsproses wat klem lê op onderskeiding en konsensus is gebruik. Die vergadering het ’n nuwe beleidsdokument oor vroue in die amp van predikant aanvaar. Dit beteken dat alle lidkerke, waarvan heelwat nie vroue as predikante toelaat nie, versoek word om hulle beleid hierby aan te pas.

Daarby is ’n vrou, ds Najla Kassab van die National Evangelical Synod of Syria and Liebanon, as nuwe president van die WGGK gekies. Dr Elize Mor­kel, een van die NG Kerk se afgevaardigdes, het haar preek in die stadskerk in Wittenberg as ’n hoog­tepunt beskryf: “Haar breë glimlag en gemaklike, vriendelike ‘And here I stand’ was ’n kragtige be­liggaamde getuienis van hoe die lewende God die kerk transformeer en vernuwe.”

Daar is sterk gefokus op geregtigheid, veral rond­om internasionale brandpunte. Daar is telkemale na die Accra-deklarasie (2004) verwys, en sprekers het die begrip “empire” gebruik om iets uit te druk van die magte wat die ekologie, geregtigheid en welsyn van die mensdom bedreig. Die vergadering het die G20-beraad versoek om die Parys-ooreenkoms oor klimaatsveranderings te steun.

Die WGGK het deeglik aandag gegee aan eenheid tussen lidkerke. Daar is baie gedoen om die teo­logie van ekumene en eenheid te versterk. Die be­sprekings hieroor het gebou op die Ryk van God en hoe dit die beste gedien word as die noue band tus­sen eenheid en geregtigheid vasgehou word.

Een van die kenmerke van die vergadering was die belegging in teologiese ontwikkeling van jongmense. Die WGGK het ’n maand voor die byeenkoms meer as 50 jong teoloë vanuit al die lidkerke by die Global Institute of Theology (GIT) byeengebring en hulle deel ge­maak van die prosesse in die verga­de­ring. Die NG Kerk was ook hier sterk verteenwoordig.

Die voormalige Algemene Sekretaris van die NG Kerk, dr Kobus Gerber, het sy termyn as lid van die Algemene Raad van die WGGK afgesluit. Na sy mening is winde van verandering aan die opsteek. Hy is van mening dat die hermeneutiek van die eku­meniese liggaam verskuif. Die klem op die “empire” en die groter invloed van nuwe kerke uit die glo­bale suide, sal lei tot ander beklemtonings.

Die byeenkoms is veral gekenmerk deur die fyn aandag aan liturgie en aanbidding. Daar was ’n feestelike diens in die Domkerk in Berlyn, ’n diep ont­roe­rende gebedsdiens in die St Nikolaikerk in Leip­zig (waar sterk weerstand was teen kommu­nis­me in Oos-Duitsland) en ’n orrelkonsert in die St Tho­mas-kerk – waar JS Bach byna 30 jaar lank orrelis en musiekmeester was.

Prof Nelus Niemandt doseer sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria.